Vir sommige van ons is rooi lipstiffie die natuurlikste ding op aarde en vir ander weer heeltemal te gewaagd, of dalk net vir ’n spesiale geleentheid. Jou lipkleur kan ’n groot verskil maak aan hoe jy voel én hoe ander jou sien. Rooi lippe kan jou bui lig en beeldskoon laat voel. Hier is drie wetenskaplike redes hoekom jy rooi lipstiffie móét dra.

#1 Mense dink jy is jonger 

’n Studie deur die mode-en-skoonheidshuis Chanel en sielkundiges van die Gettysburg College in Pennsylvania in die VSA het bevind dat rooi lipstiffie jou jonger laat lyk! Soos vroue ouer word, begin hul lippe en wenkbroue al hoe valer word. Hul oplossing? Dra ’n rooi lipstiffie om ’n groter kontras tussen jou lippe en jou gelaat te skep, want dié kontras laat jou in ’n kits jeugdiger lyk.

#2 Jy is gewilder by die werk

Vroue wat by die werk helderder grimering dra, word deur hul kollegas as vriendeliker en meer bevoeg beskou. Dít was die bevinding van ’n studie aan die Universiteit van Boston in die VSA. Vir die studie is mans en vroue gevra om na 25 foto’s te kyk van vroue met ligter en swaarder grimering aan. Die vroue met helder lip- en ooggrimering is deur die deelnemers as meer bevoeg en selfversekerd beskou as dié met minder of geen grimering nie. Iets so eenvoudig soos ’n treffende rooi lipstiffie kan wondere vir jou gemoed doen!

#3 Jy voel meer selfversekerd ...

... en sal meer selfies neem (wat ’n goeie ding kan wees!). In ’n peiling deur die Amerikaanse skoonheidshuis CoverGirl in samewerking met die Harvard-universiteit onder 1 000 vroue is bevind dat diegene wat gereeld rooi lipstiffie dra, gemiddeld drie selfies per week op sosiale media deel. Dié vroue is baie meer selfversekerd as dié wat minder gereeld lipstiffie dra, hulle besit meer skoene en is meer geneig om uit te gaan!

Probeer dié rooi lipstiffies:

1. L'Oréal Paris Liquid Lipstick Lip Paint Matte in Apocalypse Red (R160)

2. Revlon Super Lustrous Lipstick in Love Is On (R159)

3. Wet n Wild Silk Finish Lipstick in Cherry Frost (R44)

4. Elizabeth Arden Plush Up Lip Gelato in Poppy Pout (R295)

5. Dior Rouge Dior Liquid Metal in Poison Metal (R600)

Bronne: www.allure.com, www.medicaldaily.com, www.nytimes.com, www.instyle.com