Hoewel ek nog in my twintigs is, is ek bekommerd oor plooie en die veroudering van my vel. Wat is ’n goeie ouderdom om teenverouderingsprodukte te begin gebruik? – Selmi van Staden op Facebook.

Sonette Donker, kommunikasiebestuurder by Dermalogica, antwoord.

In jou vroeë 20’s is 'n gesigwasmiddel, verfrisser, vogroom en ’n sonbrandroom voldoende vir jou skoonheidsroetine. Die meeste vroue se vel verander dramaties tussen die ouderdom van 25 en 30. Die vel word droër, meer gedehidreerd (dit verloor water), dit vervaardig minder olie en fyn lyntjies begin verskyn. Dan is dit tyd om jou skoonheidsroetine aan te pas.

Voeg ’n afskilferaar, ’n oogroom met ’n SBF (sonbeskermingsfaktor) en ’n goeie masker by jou velsorgroetine. ’n Afskilferaar wat ensieme en vrugtesure bevat  is sagter op jou vel, wat beteken dis veiliger om dit rondom jou oogarea te gebruik. Nie net verwyder dit dooie selle nie, maar die ensieme stimuleer ook jou vel om nuwe selle te vervaardig. Wees versigtig vir skroprome. Dit kan skadelik wees as jy met aknee, droogheid of ’n sensitiewe vel sukkel.

’n Sterk afskilferaar se pH is laer as jou vel s’n (pH 3,0 - 3,5) en bevat gewoonlik omtrent vyf aktiewe bestanddele om jou vel af te skilfer. As jy so ’n afskilferaar gebruik, moet jy dit net een keer per week aanwend. ’n Sagte afskilferaar – dis wanneer die produk net drie aktiewe bestanddele bevat en die pH dieselfde as jou vel s’n is – kan weer twee tot drie keer per week aangewend word. Gebruik ’n bevogtigende jel-masker nadat jy jou vel afgeskilfer het. Dit sal waardevolle vog terugsit in jou vel.

Maak seker jou teenverouderingsprodukte bevat ’n SBF, vitamien A, C en E, peptiedes en hialuronsuur. Dit vervul belangrike funksies, soos om jou vel te beskerm, te versterk of jou vel te help om kollageen te vervaardig.

Ruil jou produkte by Sorbet

Van 9 tot 22 September kan jy enige skoonheidsprodukte – van grimering en gesiglappies tot verfrissers – by ’n Sorbet-skoonheidsalon inruil om R100-afslag te kry vir elke R500 wat jy op jou nuwe Dermalogica-produkte spandeer. Sodra jy jou ou produkte ingegee het, kry jy ook ’n facemapping-konsultasie. Dit is Dermalogica se unieke vel-analise wat jou vel se huidige toestand én jou vel se geskiedenis ontleed om die gepaste produkte vir jou vel te kies. Dié aanbod is nie beskikbaar by Sorbet-naeltoonbanke nie.