’n Diep-afskilferingsbehandeling (peel) hou baie voordele vir jou vel in: Dit kan ’n growwe veltekstuur, verstopte porieë en aknee verbeter. Tydens so ’n behandeling word ’n produk met ’n hoë konsentrasie sure gebruik om ’n aantal lae van jou vel te verwyder. Jou vel lyk dus onmiddellik gladder en helderder. Hoe hoër die konsenstrasie sure in die produk, hoe dieper werk dit in jou vel, en kan selfs lyntjies, sonskade en pigmentasie verminder.

Maar ’n diep-afskilferingsbehandeling is nie net vir jou gesig geskik nie. Dit kan ook jou hande heelwat jonger laat. As jy, soos ek, bloot net jou hande glad en sag wil hou en veroudering wil vertraag, kan jy ’n behandeling kies wat net die boonste lae van jou vel verwyder. Dermaceutic se Milk Peel, wat ek onlangs by Sonette Donker se velsorgkliniek, Skin ID, in Johannesburg getoets het, bevat ’n kombinasie van glikoliese, melk- en salisielsuur wat vir sowat tien minute op jou hande bly voordat dit afgewas word. Die produk verwyder net die boonste lae van jou vel en ná ’n dag of twee skilfer jou hande liggies af. Ná ’n week is dit weer mooi sag en glad.

Dis goed om die behandeling so elke vier tot ses weke te laat doen. Onthou net om daagliks sonskerm aan jou hande te smeer omdat die afgeskilferde vel sonsensitief is. Vir verouderingstekens soos donker vlekke en ’n growwe tekstuur kan jy vir ’n reeks behandelings gaan wat heelwat dieper werk, sê Sonette. Jou hande sal dan vir ’n paar dae sigbaar afskilfer, maar jy sal vinnig resultate sien.

Prys vir Dermaceutic Milk Peel: Sowat R775

charistoets

Getoets deur SARIE se skoonheidsredakteur, Charis van den Heever