Die Mercedes Benz Modeweek in Johannesburg het oor die naweek tot ’n einde gekom. Die skoonheidshuis M.A.C het SARIE genooi om vanjaar agter die skerms te gaan loer hoe dié seisoen se grootste skoonheidstendense en voorkomste lewe kry op die loopplank. Hiér is vier groot somer-tendense wat ons raakgesien het:

Gloeiende gelaat

Vel wat natuurlik, gesond en gloeiend lyk is vir die komende seisoen steeds ’n treffer. Die geheim is om jóú natuurlike skoonheid te beklemtoon eerder as om onperfeksies te probeer verbloem, sê Michelle-Lee Collins, senior grimeerkunstenaar vir M.A.C. Bring jou vel se natuurlike glans uit deur jou vel goed te bevog voordat jy jou grimering aanwend. Rond jou voorkoms af deur ’n glansende verligter onder jou oë, net bo jou wenkbroue en op die brug van jou neus aan te wend.

Die Gary Rom-blog: Haarkleur-trends vir lente 2014

Ongewone skakerings

Die gebruik van ongewone oogskadu-skakerings is veral by vertonings van mode-ontwerpers soos Tina Lobondi en Marianne Fassler gesien. Enkel skakerings soos vaalbruin, vuil-oranje, sand en ligte pastelpers is oor die hele ooglid aangewend. Kombineer dié oogskadu-voorkoms met hope maskara op jou boonste en onderste wimpers en ’n helder skakering lipstiffie.

Saartjie se kommentaar op SA Modeweek - lees hiér!

Speel met oogomlyner

Verlede seisoen was die tendens om oogomlyner in ’n eenvoudige reguit lyn aan te wend. Dié seisoen word oogomlyner  baie meer avontuurlustig gebruik om oë te laat uitstaan en beweging te skep. Probeer die katoog-voorkoms met ’n blou oogomlyner en minimale grimering oor die res van jou gesig.

FOTO: Monica Pienaar FOTO: Monica Pienaar

Metaal-bykomstighede

Metaal-skakerings is nog ’n tendens wat dié seisoen herhaal is, maar nou meer oordrewe. Skakerings van koper, goud en silwer is byna as ’n ekstra bykomstigheid gedra om ’n glansryke voorkoms met verskillende teksture te skep, sê Michelle.

Volg ons wenke vir hoe om altyd op jou beste te lyk tydens propvol somersdae

Agter die skerms

Die SARIE-skoonheidspan het saam met M.A.C agter die skerms gaan loer tydens die Mercedes Benz Modeweek in Johannesburg.

Agter die skerms met 7de Laan se Andrea Streso - lees meer!