Jou skoonheidsroetine hoef nie op te hou wanneer jy gaan slaap nie - trouens, slaap is nie net ’n maklike roete tot skoonheid nie, maar ook ’n sinvolle een, sê dr. Alison Bentley van die slaaplaboratorium by die Universiteit van die Witwatersrand. ‘Wanneer ons slaap, rus ons organe, en die spoed waarmee ons liggame dan nuwe selle vervaardig, verhoog aansienlik’

PRODUKTE VIR SLAAPTYD
Sekere produkte word spesifiek ontwerp om saam met jou slaappatrone te werk, soos Elizabeth Arden se Prevage. Dit werk op hul beste in die tweede fase van diep slaap.
“Wanneer ons slaap, werk ’n goeie nagroom die heel beste, omdat die bloedtoevoer na die vel verhoog, die pH verlaag en die vel se beskermende laag verswak,” verduidelik Alison.
Gayle Pullen, junior handelsnaamvennoot by Elizabeth Arden, beaam dit en sê snags herstel jou vel van die dag se stres: “Die bestanddeel Idebenone, wat in ons Prevage-reeks gebruik word, is ideaal omdat dit - anders as die meeste ander antioksidante - ’n wye spektrum van vry radikale beveg. Dit beteken jou vel word langer beskerm en bevog.”
Vroue verdien snags die beste velbehandeling, glo Kate Cloete, handelsnaamvennoot van velsorg en kleur by Elizabeth Arden. “Jou vel herstel oornag en daarom behoort elke vrou ’n produk te vind wat haar vel in dié proses kan help.”
Kate beklemtoon ook hoe nadelig te min slaap vir jou voorkoms kan wees: “Selfs ná net een slegte nag is vroue se vel vaal, glansloos en sonder vog.”
Dis ook nie net ons voorkoms wat daaronder ly as ons nie genoeg slaap nie. Wasige denke, slegte buie en selfs depressie is maar net ’n paar van die newe-effekte.

GELUKKIGER & SLIMMER
Studies by onder meer die Pennsilvanië-universiteit in die VSA het al gewys dat ’n goeie nagrus ons gelukkiger, selfs slimmer én dalk maerder maak. Maar steeds besef baie mense nie die waarde van ’n goeie nagrus nie. “Ons samelewing heg nie genoeg waarde aan slaap nie, en sien dit as ’n teken van luiheid,” sê Stephanie Gareth, kliniese sielkundige.
“Ons het ’n kultuur geskep wat daarop uit is om ons wakker te hou. Ons gedagtes word voortdurend geprikkel deur stres, kafeïen en elektroniese masjiene.”
In studies soos by die Bristoluniversiteit in Brittanje is ook bevind ons eet meer as ons nie die vorige nag goed geslaap het nie, terwyl min slaap ook die brein prikkel om meer kortisol (streshormoon) af te skei, wat die liggaam aanspoor om gewig op te tel.
Alison stem saam: “Slaap is noodsaaklik om fisiek en verstandelik te herstel.”
In die eerste slaapfase vernuwe ons liggame, terwyl die tweede deel van ons nagrus aan die brein gewy word - om nuwe inligting te liasseer en dit samehangend met bestaande inligting te maak.
Alison verduidelik slaap dwing jou om te rus sodat jou spiere nie al jou energie verbrand nie - dus is daar meer energie vir jou vel en ander organe.
Slaap herstel die skade aan jou vel, veral om jou oë. Daarom steek donker kringe en pofferigheid so gou kop uit ná ’n laat nag. En kort ná die kringe volg dikwels ’n veluitslag, want ’n slaaptekort verswak die vel se vermoë om die liggaam teen infeksies te beskerm.

DIE TEKENS
David White, grimeerkunstenaar van Givenchy, vertel hy kan dadelik op ’n vrou se gesig sien as sy nie genoeg geslaap het nie.
“Pofferigheid om die oë en om die kakebeen, asook ’n vaal, moeë vel is alles tekens daarvan.”
Volgens David gee vroue die skuld vir te min slaap aan daaglikse stresfaktore, veral werk en familie.
“Dieet speel ook ’n groot rol wanneer dit by ’n goeie nagrus kom. Vroue is dikwels oortyd besig met hul werk of gesin, en eet dan te laat en ongesond,” verduidelik hy.
Hy beveel die dr. Jacques Pinchestegniek aan, genoem na ’n Franse geneeskundige. Dit behels letterlik dat jy jou gesig klein knypies gee voordat jy gaan slaap om bloedsirkulasie en kollageen-produksie te verhoog.
Maar Alison glo jy kan wél verlore slaap inhaal. Slaap kan in werklikheid só opgehoop word dat daarna verwys word as “slaapskuld”, vertel sy.
“Jy voel egter nie altyd beter nadat jy langer geslaap het nie. Hoewel jy begin om verlore slaap in te haal het jou liggaam oorgegaan in ’n volgende fase van diep slaap, waaruit dit nie so lekker is om wakker te word nie.”
Soos ander slaapkenners is sy oortuig daarvan dat dit byna onmoontlik is om te veel te slaap!
Hoe lank jy ook al bevoorreg is om te kan slaap - ’n goeie nagroom kan jou ongetwyfeld mooier laat ontwaak. Kyk uit vir nagrome met verkwikkende bestanddele soos retinol, vitamien A en E, alles verjongende elemente wat jou kan help om meer gereeld met die regte voet uit die bed te klim.
Moet ook nie die waarde van ’n sy-kussingsloop onderskat nie. Sy absorbeer nie vog nie en sal nie jou nagroom of haarmasker oornag afsmeer nie.’n Sy-sloop keer ook dat jy lyne op jou gesig slaap. En wie weet, dalk word jy ook wakker soos die slapende skoonheid - jy lyk en voel asof jy honderd jaar geslaap het!

Maak jou drome soet

Skep ’n ritueel voor jy gaan slaap wat jou rustig maak, soos ’n warm bad of koppie kamilletee. Jou brein sal dit as ’n teken begin herken en begin gereed maak om af te skakel.
Jou slaapkamer moet nét jou slaapkamer wees, nie ook ’n TV-kamer of ’n vertrek met ’n rekenaar nie. Dit sal jou brein langer wakker hou.
Moenie die horlosie dophou as jy in die middel van die nag wakker word en nie weer kan slaap nie. Dit maak jou net angstig.
Los ook maar jou selfoon uit ’n uur voor jy gaan slaap.
Gaan elke aand dieselfde tyd bed toe en staan dieselfde tyd op. Moenie jou troeteldiere saam met jou in die kamer laat slaap nie - diere is ’n groot oorsaak van ’n slegte nagrus.
Verminder stimulante soos koffie en sjokolade. Kafeïen bly vir minstens vier tot agt ure in die liggaam en die stimulerende effek kan selfs langer duur op mense wat geneig is tot slapeloosheid.
Hoewel alkohol jou dalk gouer kan laat slaap, kan dit jou ook in die middel van die nag laat wakker word. Volgens wetenskaplikes verskil die uitwerking daarvan op mense.
Moenie langer as 20 minute in die bed lê en probeer slaap as jy nie kan nie. Al is jy moeg, is jou brein nog nie gereed om af te skakel nie. Doen dan eers iets soos om foto’s te liasseer.
Weerstaan die versoeking om soggens die wekker se sluimerknoppie te druk. Dit gaan dit net nóg moeiliker maak om op te staan, aangesien die brein nie genoeg tyd gehad het om deur nog ’n slaapsiklus te gaan nie.

Klaas Vakie - die feite

• Voor die gloeilamp deur Thomas Edison ontdek is,

het mense omtrent 10 ure per nag geslaap.
• Vandag slaap ons gemiddeld 6,9 ure per nag.
• Die grootste rede waarom vroue slaap verloor, is

weens stres. Die meeste kla stres oor familie laat

hulle die meeste rondrol.
• 23% van Amerikaanse paartjies slaap in aparte

beddens ter wille van ’n beter nagrus, volgens ’n

studie deur die Amerikaanse nasionale

slaapstigting.
• Omtrent 15% van ons loop in ons slaap!
• Die kanse vir iemand wat net 5 ure per nag slaap,

is 50% groter om oorgewig te wees as iemand

wat ’n volle nagrus kry.

Slaaptyd-stories
• Navorsing wys vroue benodig meer as ’n uur langer slaap as mans, en dat hulle meer vatbaar is vir depressie omdat dit dikwels nie gebeur nie.
• Sommige wetenskaplikes glo ons droom om ervarings vas te vang in ons langtermyngeheue en dus droom ons oor dié dinge wat ons wil onthou. Ander glo weer dis die brein se manier om ontslae te raak van oortollige inligting.
• Jou vel is die eerste wat wys jy kry te min slaap.
• ’n Pasgebore baba kos sy ouers tussen 400 en 750 ure se slaap in die eerste jaar.
• Ná vyf nagte van slegte slaap sal drie drankies dieselfde uitwerking op jou hê as ses drankies wanneer jy uitgerus is.
• Daar is eers geglo drome kom net tydens R.E.M.-slaap (Rapid Eye Movement) voor, maar deesdae dink wetenskaplikes ons droom dalk altyd wanneer ons slaap.
• R.E.M.-drome word gekenmerk deur bisarre gebeure, terwyl drome tydens ander fases van slaap meer herhalend is met minder beelde.
• Mense slaap gemiddeld drie ure minder as primate soos sjimpansees, ape en bobbejane, wat almal 10 ure per nag slaap.
• Volgens kenners is die 24 uur toegang tot die internet die aanloklikste rede om nié te slaap nie.
• ’n Streshormoon veroorsaak dat sommige mense ’n “ingeboude wekker” het wat hulle laat wakker word teen ’n tyd wanneer hulle wil. Navorsers sê dit word geaktiveer deur die onbewuste afwagting om wakker te word.
• Die rekord vir die langste wat iemand wakker kon bly, is 18 dae, 21 uur en 40 minute. Die rekordhouer het simptome soos hallusinasies, paranoïa, swak visie en geheueverlies gehad.

Bronne: www.mptv.net, www.handbag.co.uk, www.basicsofbeauty.com;
www.sleepdex.org www.abc.net.au; www.notelay.com; www.sleepfoundation.org