Die gebruik van natuurlike bestanddele as deel van jou skoonheidsroetine raak al hoe gewilder, en ál meer bekendes verklap dat hulle bestanddele soos klapper- en olyfolie, jogurt en selfs petroleumjellie inspan om hul vel gesond en stralend te hou. Die SARIE-skoonheidspan het ’n paar plaaslike sterre gevra om hul beste natuurlike selfdoen-skoonheidswenke met ons te deel.

Angelique Gerber Potgieter, aktrise en TV-persoonlikheid

"Ek glo in ’n organiese, veganistiese leefstyl en wanneer dit kom by skoonheid, volg ek soveel as moontlik dié reël: As jy dit nie wil eet nie, moenie dit op jou vel gebruik nie. Daarom is ek mal oor klapperolie! Ek meng dit graag met ’n vogroom uit die organiese produktereeks Lush en gebruik dit daagliks op my gesig. Dit help om my droë vel goed te bevog en soepel te hou."

Doodmoeg, maar Kaapstad sien uit om jou te sien ????

A post shared by Angelique Potgieter (@angeliquegerber83) on

Nadia Beukes-De Villiers, TV-aanbieder en aktrise

"My ma het my geleer om saans ’n bietjie petroleumjellie aan my wimpers te smeer voor ek gaan slaap. Jy sal verbaas wees hoe lekker lank jou wimpers groei ná ’n paar weke se aanwending. En as jy sukkel met ’n probleemvel, het ek gevind produkte wat teeboomolie (tea tree oil) bevat help om ’n veluitslag te kalmeer en te verminder."

Simoné Nortmann, aktrise

"Ek is mal oor ’n gesigsproei met hamamelis (witch hazel) en rooswater en gaan nêrens daarsonder nie. Ek koop graag die hamamelis-en-rooswater-mengsel by Dis-Chem en gooi dit dan tuis in ’n sproeibotteltjie. Ek spuit dit aan my gesig nadat ek my vel gereinig het en gebruik dit gereeld deur die dag om my vel te verfris. Die hamamelis is anti-inflammatories en help vir ’n veluitslag, terwyl die rooswater my vel kalmeer."

Peachy. ??+??: @imagebysuna ????‍??: @hollywoodhairpretoria

A post shared by s i m o n é n o r t m a n n (@simonenortmnn) on

Ons het ook dié internasionale bekendes se skoonheidswenke gaan uitsnuffel:

* Om haar hare natuurlik glansend te kry sit Blake Lively klapperolie aan haar haarpunte voordat sy haar hare was. Voor haar hare heeltemal droog is, draai sy dit in ’n netjiese bolla. Dit sorg vir sagte, natuurlike krulle.

* “Ek is allergies vir baie dinge, daarom kan ek net produkte gebruik wat een bestanddeel bevat,” het Emma Stone in ’n onderhoud aan Cosmopolitan gesê. Sy gebruik soms bakpoeier of bruinsuiker om haar gesig mee af te skilfer en glo ook in klapper- en olyfolie vir die bevogtiging van haar gesig.

* Kim Kardashian glo om baie water te drink is die geheim agter die Kardashian-susters se bekende glansende gelate.

* Rachel Bilson sit petroleumjellie aan haar lippe en gebruik dan ’n tandeborsel om liggies dooie velletjies te verwyder – tot siens droë en gebarste lippe!

* Jessica Alba het in ’n onderhoud vertel dat ’n mengsel van jogurt, gemaalde koffie en klapperolie ’n goeie gesigmasker maak wat jou vel afskilfer en bevog. “Ek’s mal daaroor omdat jy al dié bestanddele in jou kombuis het en jy kan dit net bymekaargooi en jou eie skoonheidspa skep!”

Bykomende bronne: www.womenshealthmag.co.uk, www.etonline.com, www.totalbeauty.com