Glo dit maar:
Skoonheid het pas ’n suikertand ontwikkel.
Dink aan luukse pamperlangsessies en ruik die heerlike aroma van sjokolade, koffie en vanielje. Navorsing sê dié lekkernye beskik oor ’n magdom elemente - soos antioksidante en teen-verouderingselemente - wat jou vel op sy heel beste laat lyk.
Selfs die kleur - diepsjokolade-bruine en ligter, romerige skakerings - is deel van hierdie winter se grimeerpalet. So, jy hoef nie meer jou begeerte na sjokolade, koffie en vanielje te onderdruk nie - gee jou oor sonder ’n sweempie skuldgevoel.

IN ’N NEUTEDOP
Sjokolade-liefhebbers glo al jare hierdie donker soetigheid skep ’n gevoel van geluksaligheid en sensualiteit. Deesdae span selfs die skoonheidswêreld sjokoladebehandelings in!
Kakaobotter, wat ontgin word uit die vet rondom die sjokoladeboon, is lank reeds ’n gewilde bestanddeel in lyfrome. Hierdie romerige vet verminder die voorkoms van littekens en is uitstekend vir ’n droë vel. Die botter bevat natuurlike antioksidante en vitamien E, en is doeltreffend teen fyn lyntjies. Die feit dat dit boonop ’n natuurlike preserveermiddel is en wonderlik ruik, dra by tot kakaobotter se gewildheid as helende velproduk.
Tans is dit egter sjokolade wat die skoonheidswêreld aan die gons het. Navorsing wys donker sjokolade beskik oor twee keer die antioksiderende krag van rooiwyn en tot vier keer dié van groentee.
Zara Hoyle, bestuurder van die Renaissance Spa in Michelangelo Towers, Johannesburg, vertel hul sjokoladebehandelings vind wyd aanklank by vroue omdat elke veltipe daarby kan baat vind.
“Vir Valentynsdag het ons sjokolade-gesigbehandelings, manikure en pedikure aangebied en dit was ’n reuse sukses. Sjokolade se antioksiderende elemente bevorder jou welstand, terwyl die geur totaal verleidelik is.”
Adele Lourens, bemarkingsbestuurder van Bernard Cassiere, meen die grootste voordeel van sjokolade en kakao in die Bernard Cassiere Nutri Protective Cocoa Care-reeks is dat dit bloedsirkulasie vir ’n blosende gelaat stimuleer.
“Hierdie behandelings is veral gewild as jy jou voorkoms voor ’n spesiale geleentheid ’n vinnige hupstoot wil gee. Ons het selfs ’n eetbare sjokolade-masker!”
(Skakel 011 315 1766 vir meer besonderhede.)
Sjokolade is deesdae net so gewild soos parfuum. Frédéric Garcia-Pelayo, bedryfsbestuurder van Inter Parfums in Parys, meen dis omdat sjokolade beslis sensueel is en ’n kalmerende uitwerking op die meeste van ons het.
“Omdat dit dikwels gebruik word om depressie teen te werk is dit die ideale geur om jou gemoed te lig.”
Onder hierdie parfuums tel Tom Ford se Black Orchid en Bvlgari Blv Notte Pour Femme, wat albei donker sjokolade as basisgeur het. Jy kan ook jou lippe met sjokolade bederf. Gebruik Palmer’s Dark Chocolate & Cherry Lip Butter vir bevogtiging of Guerlain se Kiss Kiss Laque in Chocolat Show vir ’n modieuse rooibruin glans.
Of word verlei deur L’Oréal Casting Crème Gloss se nuutste sjokoladekleure in Caramel, Chocolat en Praline vir jou hare.

VEELSYDIGE VANIELJE
Met dié sagte, gerusstellende geur word vanielje gesien as die koningin van speserye, en naas saffraan is dit die duurste ter wêreld. Dié spesery is ’n bekende gesig in die kombuis, maar die skoonheidsbedryf word al hoe meer bewus van vanielje se veelsydigheid.
As parfuumbestanddeel is dit lank reeds ’n gewilde keuse, en dit maak sin, want studies toon dit het ’n euforiese effek op die brein, voorkom lomerigheid en help selfs om jou bloedsomloop te verbeter. Daar word ook geglo vanielje het ’n kalmerende uitwerking op jou senuweestelstel en kan help om emosionele stres te verlig.
Onlangse navorsing het boonop gewys vanielje kan jou help om gewig te verloor. In ’n Londense studie is bevind pasïente wat vanielje-plakkers op hul vel gedra het, het aansienlik vinniger gewig verloor as dié daarsonder.
Die gevolgtrekking was dat die soet geur help om kosdrange in toom te hou.
Vanielje is vandag ’n algemene bestanddeel in lyfbotters, liprome en masseerolies, danksy die kalmerede, opbeurende geur.
Die skoonheidshuis Chanel het die waarde van hierdie spesery raakgesien met die ontwikkeling van hul Précision Sublimage-gesigreeks, waarin vanielje gebruik word om jou vel ferm en vogtig te hou.
Daar is ook ’n vars vanielje-en-lenteblom-lyfgeur wat jou vel verferm.
(Chanel Précision Body Excellence Firming and Revitalizing Body Spray).
Christophe Albert, uitvoerbestuurder van Inter Parfums in Parys, wys ook op die gerusstellende gevoel wat vanielje skep.
“Die soet reuk verteenwoordig die bekende en daarom kalmeer dit jou sintuie.”
Natasha Bennett, publisiteitsbestuurder van Aramis & Designer Fragrances, stem saam: “Vanielje is ’n hoogs herkenbare reuk en skep ’n gevoel van bekendheid en gemak, veral omdat die meeste van ons met dié reuk grootgeword het.”
Vir heerlike vanielje-parfuums probeer Estée Lauder Pleasures Delight, Donna Karan Cashmere Mist en Van Cleef & Arpels First.

KOFFIE-KAPITAAL
Vir baie van ons is dit amper ondenkbaar om jou dag sonder ’n koppie koffie te begin. Nou kan jy dit ook deel van jou skoonheidsroetine maak.
Die koffiebessie waarin die boon voorkom, word gereken as een van die kragtigste antioksidante in velsorg en dit bevat heelparty van dieselfde elemente as groentee en granate - twee bestanddele wat gereeld vir hul suiweringsvermoë geprys word.
Ook is bewys dat kafeïen jou vel sagkens verfris en selfs porieë kan verklein.
Daarom het Clinique op kafeïen gesteun vir sy vermoë om ’n geïrriteerde vel te kalmeer met die ontwikkeling van hul nuwe Redness Solutions Daily Relief Cream.
As wapen teen selluliet is kafeïen algemeen in die skoonheidswêreld bekend en help veral deur vetselle te verklein.
Leila Marx, nasionale opleidingsbestuurder van Estée Lauder, sê: “In Estée Lauder se Body Performance-reeks kombineer ons kafeïen met tegnologie wat jou vel verhit. Dit stel jou liggaam die beste in staat om selluliet te beveg.”
Volgens Leila vind hierdie bestanddeel deesdae om verskeie ander redes ook byval.
“Dis ’n kragtige element wat vel-irritasies teenwerk en jou vel stabiliseer.
“Wanneer dit met groentee gekombineer word, word ’n sterk mengsel van antioksidante vir jou vel geskep.”
Kafeïen se natuurlike herstelvermoë word ook benut in Estée Lauder se Re-Nutriv-reeks. Hul Intensive Smoothing Body Creme is wel baie duur, maar beslis ’n kop-tot-toon-bederf.
Kyk ook uit vir produkte van L’Oréal, Neutrogena en Avon - huise wat almal die voordele van kafeïen inspan om jou mooier te maak.
Koffiekleure is op die oomblik ook gewild as grimering en warm kleure soos Environ Longlasting Lipliner in Cappuccino, Chanel Longlasting Eyeliner in Espresso en L’Oréal True Match Super-Blendable Powder in Cappuccino sal hierdie winter jou vel laat gloei.