Een van die grootste haartendense van die laaste jare is vroue wat hul natuurlike grys hare met trots dra. En ons is mal daaroor! Ouderdom is immers ’n ingesteldheid en die kleur van jou hare is nie ’n weerspieëling van jou ouderdom nie.

Grys hare het egter spesiale sorg nodig - hiér's raad vir ’n gesonde grys kroon!

Sodra jy jou grys hare laat uitgroei sal jy agterkom die tekstuur van jou hare word al hoe growwer en droër en jou hare word moeilik om te hanteer, sê Shelene Shaer, haarstileerder en mede-eienaar van Tanaz-haarsalon in Johannesburg. “Dis belangrik om jou haarsorgroetine aan te pas sodat jy jou grys hare beter kan versorg.”

Grys hare is gewoonlik growwer omdat die natuurlike lipiedlaag wat elke haar bedek dunner is, wat veroorsaak dat jou hare vinniger bros en droog word. Die kopvel se natuurlike vervaardiging van olie begin ook afneem teen die tyd dat jy begin grys raak.

Die aktrise Jamie Lee Curtis dra al jare grys hare.

Wenke om jou grys hare in top-kondisie te hou:

#1 Gebruik ’n goeiegehalte-sjampoe en -opknapper wat geformuleer is om hare te bevog en kroeserigheid teen te werk sodat jou hare makliker is om te hanteer en stileer. Kyk uit vir haarsorgprodukte met woorde soos “anti-frizz”, “smoothing”, “hydrating” en “nourishing” op die verpakking.

#2 Probeer ook ’n sjampoe en opknapper wat olie bevat. Dit help om die haarkutikels te seël sodat jou hare gladder lyk. Gladder hare blink meer omdat dit lig reflekteer.

#3 Hou jou grys hare gesond deur dit weekliks met ’n bevogtigingsmasker te behandel. Oorweeg dit ook om sowat elke drie maande ’n haarsalon te besoek vir ’n bevogtigende haarbehandeling.

#4 ’n Voedende haarolie is ’n móét-hê vir grys hare. Jy kan ’n haarolie aan jou klam hare wend nadat jy dit gewas het vir ekstra vog of ’n bietjie aan jou haarpunte wend nadat jy jou hare gestileer het om dit te voed en gladder te laat lyk.

#5 Grys hare kan maklik geel lyk ná ’n ruk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe ’n sjampoe en opknapper wat geelheid (soos ’n silwer of pers sjampoe) teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.

Die plaaslike modekenner en eienaar van die opskiet-stylsalon Salon 58, Jackie Burger, is bekend vir haar elegante grys hare.

Het jy geweet?

Dis ’n baie eenvoudiger proses om grys hare te laat uitgroei as wat vroue dink, sê Boyd Meilhon, meester-stilis en opleier van die haarsalon-groep Carlton Hair International. “Dit maak nie saak of jou hare lank of kort, 90% of 50% grys is nie, die proses bly dieselfde: Ek kyk na jou natuurlike haarkleur by die wortels en kleur dan die res van jou hare effens ligter na gelang van hoe grys jy is. Daarna sit ek grys strepies in. Hoe gryser jy is, hoe meer strepies. Op dié manier lyk jou hare natuurlik terwyl jy dit laat uitgroei.”

Probeer dié produkte:

1. Davines Alchemic Silver Shampoo (R520) en Conditioner (R643). By uitsoeksalonne

2. Dove Nutritive Solutions Nourishing Oil Care Shampoo (R50 vir 250 ml) en Conditioner (R50 vir 200 ml)

3. L'Oréal Paris Elvive Extraordinary Oil for All Hair Types (R190)

4. Schwarzkopf Gliss Hair Repair Hyaluron Hair Filler+ (R90)

5. Lee Stafford Argan Oil From Morocco Miracle Shine Spray (R160). By Clicks