Suid-Afrika se voorland nou is ’n grendelstaat wat amptelik om middernag vanaand in werking tree. Vir die volgende 21 dae gaan meeste Suid-Afrikaners hulself tuis bevind. Dis die ideale kans om daardie lang lysies waarvoor jy nooit tyd kry nie aan te pak.

Soos wat jy grimering, naellak en velsorgprodukte aanskaf, word dit al hoe moeiliker om alles netjies bymekaar te hou. Voor jy jou kry, staan buisies onderlaag, maskara, lipstiffie en room jou spieëlkas vol terwyl jy jou morsdood moet soek na jou staatmaker-lipstiffie!

Begin sommer by jou skoonheidskas en gooi produkte wat reeds verval het weg en sorteer die res mooi netjies uit.

Hiér is ’n paar idees om jou skoonheidskas netjies te hou ...

#1 'Tablescaping'

Maak jou skoonheidsprodukte deel van jou bad- of slaapkamer-dekor, pleks daarvan om dit in ’n kas weg te bêre. Sogenaamde "tablescaping" behels die groepering van soortgelyke produkte op ’n oppervlak saam met ander dekor-items, soos ’n fotoraam, ornament of potplant. Rangskik byvoorbeeld al die produkte wat jy vir jou daaglikse velsorgroetine gebruik, saam met ’n antieke spieël of ’n mooi kers.

Gorgeous detail in the shop today, with a little something for everyone. Doors open 11am #hfgxmaspopupshop

A post shared by Hunting for George (@huntingforgeorge) on

#2 Mooi parfuumbottels

Groepeer jou parfuumbottels op ’n ou silwer of ander metaalskinkbord. Die silwer weerkaats lig teen die glas van die bottels en sorg so vir ’n elegante tafel-uitstalling. Probeer ook koek- en kolwyntjiestaanders.

#3 Span glashouers, blikke en bakkies in

Soek deur jou huis vir ou blikke, glashouers, boksies, bakkies en selfs ou kershouers wat jy kan hergebruik om jou skoonheidsprodukte in te stoor. Dié soort houers is perfek vir die sortering van jou grimeerborsels, lipstiffies, grimeerpotlode, katoenwatte, haarknippies en ander haarbykomstighede.

#4 Probeer deursigtige houers

Bêre grimeerprodukte in deursigtige houers met rakke sodat jy dadelik kan sien wat in elke houer is.

#5 Jou skoonheidslaai

As jy daarvan hou om jou skoonheidsprodukte in ’n laai te hou, gebruik draadmandjies, plastiekhouers of selfs ’n eetgerei-laaihouer om produkte volgens soort in die laai te sorteer.

#6 Stal dit netjies uit

’n Speseryrak of klein boekrak is die ideale bêreplek vir alle tipes skoonheidsprodukte.

Bronne: Red Online, Refinery29