Ten spyte van die Covid-19-pandemie bly die Kwêla-aanbieder en aktrise Therese Bam besig. Sy het met SARIE.com oor die lewe tydens inperking en so ’n bietjie oor mooimaak gesels.

Oor die lewe tydens inperking …

Daar is wel baie streng regulasies, maar Therese is dankbaar dat die bedryf stelselmatig weer lewe kry.

FOTO Instagram / Therese Bam

“Ons is weer aan die werk! Ek is steeds by Kwêla as aanbieder en doen oorklankingswerk. Ek was selfs ’n dag lank op ’n Amerikaanse reeks se stel.

“Jy word elke dag ondervra, jou temperatuur gemeet, ontsmet, klere word met alkohol gestoom, ons moet maskers dra, jy eet in jou kar of wag daar as jy tyd af het. Alle toerusting word daagliks ontsmet én na elke persoon dit gebruik het. Ons het elkeen ons eie bottel ontsmettingsmiddel wat ons moet saamdra en gebruik. Ek is regtig beïndruk met die moeite en harde werk wat daarin gaan om te verseker dat almal veilig is en kan werk.” 

Oefening is nou Therese se grootste redding. “Ek stap en draf soggens met my honde en doen op die stoep joga of sommer net ’n paar oefeninge waarvoor ek lus is. Natuurlik met lekker musiek in my ore!”  

Verder hou sy haar hande met die maak van juwele besig. “Dis hope pret, en ek het al soveel goed gemaak dat ek oorweeg om dit te begin verkoop! Ek het net voor die inperking ’n kursus gedoen en gelukkig als gekry wat ek nodig gehad het om mee te begin.”

Boonop is tyd saam met haar “lockdown buddy”, soos sy na haar man verwys, nie te versmaai nie. “My man is baie oulik en ons kom so goed oor die weg.”

FOTO Instagram / Therese Bam

Toevallig het Therese net voor die nasionale inperking amptelik afgekondig is, Deon Meyer se Koors gelees. “Toe die regte, egte pandemie uitbreek, was dit dus vir my totaal surrealisties! Die hele situasie maak my nog meer bewus van hoeveel ek het om voor dankbaar te wees ... veral werk. Ek is ook intens bewus van hoeveel ons as mense mekaar se geselskap en teenwoordigheid nodig het.”

Therese oor mooimaak …

“Ek weet ek moet meer doen soos ek ouer raak. Ek glo in balans en dink gesonde eetgewoontes, genoegsame oefening en baie water is belangrik. Maar ek glo ook vas dat gene n baie groot rol speel.”

As dit by velsorguitdagings kom, is rosacea vir Therese ’n ewige stryd. “Dit is soms baie erg en soms meer onder beheer. Ek sien al vir jare ’n goeie dermatoloog, wat bepaal wanneer ek vir ’n tyd lank medikasie moet gebruik om dit te stabiliseer. Dis iets wat nooit sal weggaan nie en met stres en emosionele tye is dit veral erg. My vel was altyd vlekkeloos! So dit was vir my ’n aanpassing om daaraan gewoond te raak dat ek elke dag grimering moet gebruik om dit te bedek. Ek sal baie graag meer behandelings daarvoor wil doen, maar dis regtig duur.”

Probeer dié wenke as jy ook met rosacea sukkel:

#1 Identifiseer die eksterne snellers wat jou rosacea vererger deur ’n dagboek te hou van jou dieet en daaglikse aktiwiteite en hoe dit die rooiheid van jou vel beïnvloed. Sodra jy weet wat die grootste snellers is, kan jy planne maak om dit soveel as moontlik te vermy.

#2 Kies ligte, ongeparfumeerde skoonheidsprodukte wat spesiaal geformuleer is vir ’n sensitiewe en rooi vel. Kyk ook uit vir produkte met seramied wat bevog en help om jou velwand te herstel omdat ’n vel met rosacea maklik dehidreer.

#3 Dra daagliks sonskerm met ’n SBF van minstens 30, winter en somer. Sonblootstelling is van die algemeenste snellers vir rosacea.

#4 Gebruik ’n basislaag (primer) en verbloemer (concealer) met ’n groen tint onder jou grimering. Groen pigment neutraliseer rooiheid.

#5 In erge gevalle kan jou dermatoloog antibiotika teen inflammasie vir jou voorskryf of ’n laserbehandeling aanbeveel om onder meer die voorkoms van sigbare fyn rooi aartjies onder jou vel te verbeter.

Haar moet-hê-grimeerprodukte wat altyd in haar handsak is?

M.A.C Studio Fix Powder (R515). Beskikbaar aanlyn by www.maccosmetics.co.za

Simply Bee Lip Balm Pot (R42). Beskikbaar aanlyn by www.simplybee.co.za

M.A.C Eye Kohl in Teddy (R295). Beskikbaar aanlyn by www.maccosmetics.co.za

Om haar pragtige oë te beklemtoon gebruik sy bruin oogpotlood (M.A.C) op haar boonste en onderste wimperlyne en skakeer dit met ’n grimeerkwassie. “Ek is mal oor natuurlike kleure soos bruin en goud.”

Vir ’n meer dramatiese voorkoms trek sy met swart ’n lyn op die boonste ooglid.

Raad van haar ma wat haar altyd sal bybly?

“Sy het van nature ’n pragtige vel gehad. Intellek en liefde was vir haar baie meer waardevol as die uiterlike, so ek het grootgeword met die klem daarop. Ek glo dat jy mooi lyk wanneer jy gelukkig is. Dis ’n feit! Haar voorbeeld aan my was om nuuskierig deur die lewe te gaan, om te besef hoe kosbaar geluk en gesondheid is en dat mens dit moet bewaar en oppas as jy dit het.” 

FOTO Instagram / Therese Bam