Nes jy aan die begin van die koue seisoen jou somerklerekas vir ’n winter-een verruil, moet jy jou vel- en haarsorgroetines aanpas om die bibberende maande se strawwe aanslag teen te staan.

In Suid-Afrika is die minder vog in die lug die grootste sondaar wat jou vel se glans steel, veral in die binneland waar die winters droog en koud is. Weens wind, koue, die hitte van kaggels en verwarmers en temperatuur-skommelinge soos wat jy van buite na binne beweeg, vorm fyn krakies op jou vel en haarkutikels (die buitenste deel van jou hare). Vog ontsnap dan makliker uit jou hare en vel.

Selfs in die dele van die land waar dit meer humied is in die winter, soos langs die kusgebiede en in ’n winterreënvalstreek soos die Wes-Kaap, is ekstra sorg nodig omdat koue temperature en ysige wind steeds ’n tol eis.

“In die winter word jou vel sensitief, jeukerig, droog en vaal,” sê Anel Engelke, opleidingsbestuurder van Futurethis, die maatskappy wat die velsorgreeks QMS Medicosmetics plaaslik versprei.

Daarby is fyn lyntjies en plooie meer sigbaar en die kans vir puisies groter omdat onsuiwerhede makliker jou verswakte velwand binnedring. En jou hare? Droë hare voel grof en kroeserig en breek maklik, sê Karen Botha, bemarkingsbestuurder van die Brasiliaanse haarsorgreeks Inoar in Suid-Afrika.

FOTO: Unsplash

Gelukkig is net ’n paar slim aanpassings in jou vel- en haarsorg-roetines nodig om jou gesig, lyf en kroon nuwe lewe te gee, maak nie saak wat jou vel- of haartipe is nie. Waar jy in die somer byvoorbeeld ’n ligte jel-vogroom, ’n detoksreiniger en ’n southaarstileersproei gebruik, moet jy nou na romerige, hidrerende formules oorskakel.

“Vir jou vel moet jy uitkyk vir produkte met hialuronsuur [wat aan vog bind] en natuurlike olies om die velwand te voed,” sê Anel. Vir jou hare is ekstra produkte nodig wat die kutikel herstel en seël sodat vog in jou haarskag behoue bly. Volg dié maklike gids:

Vir jou vel

Van ’n skuimreiniger . . .

Die verkeerde reiniger kan jou vel van water en olie stroop. Dit kan selfs tot ’n oorproduksie van olie lei om te vergoed vir die natuurlike olie wat gestroop word. “Sodra jou vel styf voel en effens rooi lyk net nadat jy dit gewas het, is die reiniger te hard vir jou vel,” sê Anel.

. . . na ’n reinigingsbalsem.

Die balsemformule is soos ’n oliereiniger, maar met ’n soliede tekstuur. Die olie maak jou vel mooi skoon omdat dit met vuilheid en olierigheid bind en dit oplos. Nadat jy dit afgewas het, voel jou vel glad nie olierig nie, maar eerder soepel en bevog.

Van ’n ligte vogroom . . .

In die somer is ’n ligte vogroom wat maklik absorbeer voldoende, maar jou wintervogroom moet die vog terugsit wat uit jou vel verdamp. Soek produkte met bestanddele soos gliserien, silikoon, hialuronsuur en seramiedes.

. . . na ’n hidrerende vogroom en gesigolie.

’n Goeie plan is om ’n gesigolie aan te skaf en ’n paar druppels by ’n hidrerende wintervogroom te meng, sê die internasionale velsorgkenner Paula Begoun aanlyn. Dit werk wonderlik om jou vel se boonste lipiedlaag aan te vul en vog in jou vel te seël.

Van ’n gesigskrop . . .

Gereelde afskilfering is heeljaar belangrik, maar in die koue maande is dit moeiliker vir jou vel om natuurlik van dooie selle ontslae te raak. Dis omdat jou vel water nodig het om doeltreffend af te skilfer. Verruil jou korrelafskilferaar vir een wat sag en strelend is sodat dit nie jou droë vel irriteer nie.

. . . na ’n chemiese afskilferaar

Skilfer sowat drie keer ’n week af met ’n chemiese afskilferaar wat melksuur bevat, of een met vrugte-ensieme wat geskik is vir alle veltipes.

Van ’n lyfroom . . .

In die somer is ’n ligte, vloeibare lyfroom wat vinnig absorbeer perfek.

. . . na ’n ryk room of botter

Nou is dit tyd vir ’n ryker room of botter wat meer bevogtigend is. Wend dit oor jou hele lyf aan net nadat jy gestort of gebad het om die ekstra vog in jou lyf te seël. Moenie vergeet van jou elmboë en knieë nie omdat dié dele gewoonlik droër is as die res van jou lyf.

Die reinigingsbalsem Dermalogica Precleanse Balm (R660) kom saam met ’n handskoen van plastiek wat help om hardnekkige vuilheid te verwyder 2. Ekstrak van rooi alge en hialuronsuur in Elizabeth Arden Skin Illuminating Brightening Hydragel Cream (R730) bevog intens sonder om swaar te voel 3. Kragtige antioksidante van agt essensiële olies beskerm en voed jou vel in L’Oréal Paris Age Perfect Extraordinary Oil Rebalancing Facial Oil (R285) 4. Verhelder ’n vaal gelaat met QMS Medicosmetics se Exfoliant Fluid (R1 010) wat vrugtesure en –ensieme bevat. By uitsoeksalonne 5. Geurige rooswater is kalmerend in Johnson’s Vita-Rich Soothing Body Cream with Rose Water (R40)

Vir jou hare

Jou hare het nou veral ekstra vog nodig as dit ’n growwer en/of ’n natuurlike krullerige tekstuur het, jy dit gereeld met hitte stileer, baie tyd in ’n lugversorgde vertrek deurbring of grys hare het. Voeg bloot dié staatmakerprodukte by:

Vir fyn hare: Inbly-opknapper

Die formule is gewoonlik ligter as dié van ’n gewone opknapper en bevog fyn hare sonder dat dit swaar voel. Dit beskerm ook teen buitefaktore wat hare uitdroog soos wind en UV-strale. Wend dit aan vanaf die middel van jou hare tot by die punte nadat jy jou hare met ’n handdoek drooggemaak het.

Vir growwe hare: Haarmasker

Maskers is ontwikkel om jou hare intens te voed en werk uitstekend om kroeserigheid te verminder. Gebruik dit een of selfs twee keer ’n week nadat jy jou hare gewas het. Spoel dit ná sowat tien minute af. Vir alle haartipes: Haarolie Natuurlike haarolies soos makadamia-, argan-, klapper- en olyfolie seël die kutikel en penetreer die haarskag waar dit jou hare van binne voed en herstel, sê Karen van Inoar. Dis geskik vir enige haartekstuur, selfs fyn hare.

Is jou hare beskadig, droog en kroeserig?

Probeer Inoar se Absolut Daymoist CLR-reeks (vanaf R280) wat bestaan uit ’n sjampoe, opknapper en masker. Unieke bestanddele in die formules, soos beet-ekstrak en ’n spesiale vorm van mieliemeel, vul jou hare aan met aminosure. Dit versterk die skag en sorg dat vog in jou hare beter behoue bly sodat hare soepel, glad en meer hanteerbaar is. By uitsoek-salonne of www.inoar.co.za
WENK Probeer om growwe hare nie elke dag te was nie, sê Karen van Inoar. Hare word dan minder gereeld van vog gestroop en dit gee jou hare se natuurlike olies kans om haarlengtes te voed. Inoar is ’n borg van SARIE Voorbladgesig 2018 Foto’s Gallo Images/Getty Images, verskaf

Vier tekstuur

Mat of glans? Kies jy die regte grimeerformules, lyk jou voorkoms eksieperfeksie. Skoonheidsredakteur Charis van den Heever gee raad

Foto’s Gallo Images/Getty Images

VIR JOU VEL

Die slimste grimeerbesluit wat jy kan neem, is om die regte onderlaag te kies. Kry jy die tekstuur reg, lyk jou vel natuurlik en foutloos. ’n Matonderlaag is gewild onder dié van ons wat hou van voller bedekking en sommer ook imperfeksies wil wegsteek.

En die nuutste formules lyk glad nie dik of aangeplak nie. Dis ook die ideale keuse as jy ’n olierige vel het omdat dié onderlae oortollige olie absorbeer en blinkheid laat verdwyn.

’n Glansonderlaag is ’n staatmaker as jy van ’n natuurlike gelaat hou. Dit sorg vir ’n veerligte, douerige (dewy), byna deursigtige afwerking en is perfek as jy met ’n droë vel sukkel omdat dit ook jou vel bevog. Dié tipe onderlaag gaan nie enige vlekke of knoppies wegsteek soos ’n matonderlaag nie, maar jy kan enige “foute” met ’n bietjie verbloemer verdoesel voordat jy jou glansonderlaag aanwend.

VIR JOU WANGE

Blosser gee in ’n kits lewe aan ’n vaal vel. As jy onseker is oor watter kleur by jou gaan pas, kies pienk. Dit werk by die meeste velkleure en ouderdomme. Maar wees meer oordeelkundig oor die formule wat jy koop, want dis in die tekstuur van ’n blosser waar die betowering lê.

’n Roomblosser gee intense kleur aan jou wange, so gebruik min en skakeer dit goed met jou vingers in. Dis ideaal vir ’n droë vel en gee ’n mooi douerige afwerking. Kies ’n poeierblosser as jy ouer is. Dit gee subtiele kleur aan jou wange en is heelwat makliker om aan te wend. Jy skakeer dit bloot met ’n blosserborsel op die appels van jou wange.

VIR JOU OË

Die regte teksture vir jou oë maak ’n groot verskil. Neutrale kleure werk veral goed in ’n mattekstuur. Kies ook skakerings met dié tekstuur vir die dag of as jy ’n rokerige voorkoms (smokey eye) wil skep. In die aand lyk ’n tikkie blink mooi. Omdat dit lig weg van jou vel weerkaats, laat dit jou oë groter lyk. Kleure soos donkerpers, blou of groen kom tot hul reg in ’n glansende skakering. ’n Bietjie verligter (highlighter) in die binnehoeke van jou oë laat dit vars en helder lyk.

VIR JOU LIPPE

Hoewel vroue oor die algemeen meer aangetrokke is tot blink of romerige lipprodukte, het dié met ’n matafwerking die laaste paar jaar ’n metamorfose ondergaan: waar dit in die verlede geneig was om jou lippe uit te droog, is dit nou vol bevogtigende bestanddele. As jy van donker of helder lipkleure soos purper, oranje of rooi hou, is ’n matlipstiffie die antwoord. Dié kleure sal dieper en meer intens lyk in ’n matafwerking en boonop langer aanbly. Verkies jy eerder ligter kleure soos neutrale skakerings (nudes) en ligpienke? Dan werk glans- of satynlipstiffies beter. Die glans gee lewe aan dié kleure én laat ook dunner lippe voller lyk.

Blink hiér, nie dáár

Ja . . . vir jou wange

’n Bietjie verligter op die bokant van jou wangbene laat jou wange sterker vertoon en jou gesig meer gedefinieerd lyk. Omdat dit jou vel laat straal, lyk jy ook sommer jonger.

Nee . . . vir jou T-sone

Tik altyd ’n bietjie poeier op jou T-sone nadat jy grimeer het. Dié deel is geneig om olieriger as die res van jou gesig te wees en deur die dag te begin blink.