Bekendes soos die realiteitster Kim Kardashian en die Oscar-bekroonde aktrise Alicia Vikander word al gekenmerk aan hul grimeervoorkomste. Dié twee sterre dra byna altyd neutrale skakerings op die rooi tapyt - en dit wérk! Wat is hul geheim? Albei weet dat neutrale skakerings hul vel se natuurlike warm ondertoon komplementeer.

Jou vel se ondertoon kan warm, koel of neutraal wees. Hoewel die kleur van jou gelaat kan verander weens sonblootstelling of velkwessies soos sensitiwiteit en ’n veluitslag, bly jou vel se ondertoon altyd dieselfde.

As jy weet wat jóú velondertoon is, help dit jou om onderlaag-, lipstiffie- en ander grimeerskakerings te kies wat die natuurlikste op jou gelaat gaan lyk. Grimeerskakerings wat nie by jou velondertoon pas nie, kan jou gelaat oranje, pienk of selfs asvaal laat lyk, sê Paula Begoun, skoonheidskenner en skrywer van die boek Don’t Go To The Cosmetics Counter Without Me, op haar webtuiste.

Gelukkig is dit baie maklik om ook self jou vel se natuurlike ondertoon te bepaal. Dié vrae kan jou help:

1. Watter kleur lyk die are onder jou vel?

Kyk na die are onder jou vel aan die binnekant van jou pols. As dit blou lyk dui dit op ’n koel ondertoon, terwyl are wat meer groen lyk dui dat jy ’n warm ondertoon het. As jy sukkel om te bepaal of die kleur van jou are blou of groen is (dit lyk blou én groen), dan is jou vel se ondertoon heel moontlik neutraal.

2. In watter modekleure lyk jy die mooiste?

Mense met ’n koel ondertoon lyk mooi in juweelskakerings. Diegene met ’n warm ondertoon moet weer eerder aardse skakerings kies. Die gelukkiges wat in byna alle kleure mooi lyk, het ’n neutrale ondertoon.

3. Goue of silwer juwele?

Pas jou gunsteling- goue of silwer juwele aan. Silwerkleurige juweliersware lyk gewoonlik mooier by koel ondertone en goudkleurige juweliersware by warm ondertone. As jy goue én silwer juwele kan dra, is jou ondertoon neutraal. (Kom jy ’n patroon agter?)

4. Wanneer jy ’n lang dag in die son deurbring ...

... brand jy vinnig bloedrooi of word jy sonbruin? As jy maklik sonbrand opdoen, het jou vel heel moontlik ’n koel ondertoon. As jou vel sonbruin word eerder as om rooi te brand, het jy waarskynlik ’n warm ondertoon.

5. Wat is die kleur van jou oë?

Mense met blou, grys of groen oë het gewoonlik ’n koeler ondertoon. Diegene met bruin of ligbruin (hazel) oë het meer dikwels ’n warm ondertoon.

Onthou!

Jou vel se ondertoon lê gewoonlik op ’n spektrum tussen koel, neutraal en warm. Dit verskil van mens tot mens; eksperimenteer dus met warm én koel grimeerskakerings om uit te vind watter kombinasies jou gelaat die beste komplementeer.

Bronne: www.bustle.com, www.paulaschoice.com