Sukkel jy om te kies tussen jou twee gunsteling-lipstifkleure? Dra sommer al twee! ’n Ombré-effek op jou lippe is nou hoogmode in die skoonheidswêreld en boonop ’n slim manier om jou lippe voller te laat lyk. Hier wys die supermodel Bella Hadid jou hoe ...

Die mode-en-skoonheidshuis Dior het onlangs ’n video gedeel waar hul grimeerkunstenaar Peter Philips vir Bella wys hoe om ’n kleurryke somer-grimeervoorkoms te skep met hul nuwe lente-grimeerreeks. Buiten haar sagte rokerige oë en bloesende gelaat was ons veral mal oor die vrolike donkerpienk ombré-effek wat Peter op haar lippe geskep het.

’n Tweekleurige ombré-voorkoms op jou lippe raak al hoe gewilder en dit lyk asof dit ’n groot trend in die komende maande gaan wees. Omdat die skakering op jou lippe in die middel ligter is, skep dit ook die illusie van voller en meer gedefinieerde lippe.

Kyk dié video om te sien hoe Peter Philips ’n ombré-lipvoorkoms vir Bella Hadid skep:

Om die ombré-effek te skep het Peter ’n unieke lipstifpotlood met twee skakerings op elke punt gebruik. Hy het eers die bessiekleurige lipstiffie op die buitehoeke van Bella se lippe aangewend en daarna die ligter pienk skakering in die middel van haar lippe. Die twee kleure is toe mooi in mekaar in geskakeer. Die lipstiffies is deel van Dior se lente-grimeerreeks, Color Gradation, wat tans beskikbaar is vir ’n beperkte tyd.

Skep só self ’n ombré-effek op jou lippe:

Wend ’n helderkleurige lipstiffie in ’n romerige tekstuur op jou lippe aan en skakeer dan ’n effens ligter skakering in die middel van jou lippe in met ’n klein, plat kwassie. Jy kan selfs ook verligterpoeier (highlighter) as die middelste skakering gebruik.

Kyk hiér na die volledige video om te sien hoe Peter Bella se lente-grimeervoorkoms skep:

Probeer dié lipstiffies om ’n ombré-effek op jou lippe te skep:

Lees nou

Kies die regte maskaraborsel vir jou wimpers

4 wenke om jou lob-haarstyl vars te hou