’n Mooi, vlekkelose en gladde vel. Dis iets wat dadelik raakgesien word en wat ons almal begeer. Vroeër is aanvaar dat probleme in jou tienerjare later sal regkom. Ongelukkig veroorsaak faktore soos besoedeling, stres en hormone (weens ons moderne leefwyse) deesdae dat vroue - veral bo 30 - nog dikwels velprobleme het. 50% van volwasse vroue sukkel met ’n uitslag en ’n olierige vel, wys studies deur die skoonheidshuis Dermalogica. Hoewel tieners steeds aan die kortste ent trek (3 uit 4), al is dit net tydelik en hoofsaaklik weens hormone, kan ’n volwassene se probleem jare voortduur. En dit lyk of dié probleem nie besig is om op te klaar nie. 53% van vroue ouer as 33 sukkel met ’n erger premenstruele veluitslag teenoor vroue onder 20, is bevind in ’n studie deur die New England Journal of Medicine.

Wat het verander?


JOU VEL VERSKIL BAIE VAN TOE JY ’N TIENER WAS
• Volwassenes sukkel hoofsaaklik met uitslag op die kakebeen, ken en nek, terwyl tieners meer

geneig is om ’n uitslag oor hul hele gesig te kry.
• By volwassenes neem dit langer om te herstel.
• Rooiheid bly langer op die vel.
• Pigmentasie kan blywend wees.
• Jou vel is meer sensitief.
• Probleme word hoofsaaklik met kombinasie-velle by volwassenes geassosieer.
• ’n Uitslag by volwassenes word hoofsaaklik deur stres veroorsaak, teenoor hormone by tieners.


Hoekom?
Chroniese stres is die hoofsondaar, sê Julia Kelley, opleidingsbestuurder by Dermalogica. “Ons is die één geslag wat gedurig stres ondervind omdat ons nóóit genoeg tyd het om ons werk en persoonlike verantwoordelikhede te balanseer nie.” Dan werk jou adrenalienkliere oortyd en skei oortollige olie af wat die dooie velletjies vasgevang hou en jou porieë verstop. Jou vel kry nie genoeg suurstof nie en saam met bakterieë en inflammasie lei dit tot ’n geïrriteerde vel.
Die dermatoloog dr. Sian Hartshorne glo jou dieet kan wel ook ’n rol speel en dat jy moet uitvind watter kos nie met jóú akkordeer nie.
Die velsorgkenner Steph du Preez glo dat velprobleme holisties benader moet word. “Jou vel weerspieël wat in jou liggaam aangaan. Daarom sien ons die effek van stres, hormone, eetgewoontes - byna alles wat ons doen - op ons vel.” Sy waarsku dat jy nie sommer enige produk moet gebruik nie. “Stel eers vas wat die oorsaak van jou probleem is voordat jy ’n produk koop. Terapeute en dermatoloë kan help as jy nie seker is nie.”
Caro Copeland, hoof- uitvoerende beampte van Tocara Skin and Body Science, glo ook in die individuele benadering. “My ondervinding is dat elke mens anders na hul eie vel moet kyk. Ek is byvoorbeeld baie sensitief vir mineraalolies en kry dadelik ’n uitslag - ek bly ook weg van sinteties gekleurde grimering,” sê sy. Haar raad is om baie sag te werk te gaan en om sover moontlik natuurlike bestanddele te gebruik. “Sintetiese produkte verstop dikwels jou porieë, terwyl natuurlike bestanddele jou vel normaal laat asemhaal.” Caro beklemtoon dat ’n oliebehandeling ’n olierige of kombinasievel vinniger regruk. “Jou gesig het olie baie nodig. Jy moet net hierdie olies balanseer. As jy olie van ’n goeie gehalte gebruik, hou dit olieproduksie in bedwang. Maar as jy jou vel gedurig van noodsaaklike olies ontneem, word te veel olie afgeskei om op te maak vir die tekort.”
Michelle van Zyl, opleier by Matis, sê ’n olierige of kombinasievel het voedende bestanddele nodig. “Die alkohol wat dikwels voorkom in produkte wat ons olievlakke beheer, kan selfs jou vel beskadig as dit die noodsaaklike sure vernietig. ’n Probleemvel benodig, soos enige ander vel, net soveel bevogtigende en teenverouderingselemente.” Vir Michelle is ’n opknapper belangrik in jou roetine, maar dit word te maklik afgeskeep. “Dis net wat ’n probleemvel kort om die pH te stabiliseer. Bakterieë floreer in ’n suur omgewing en daarom kan ’n opknapper wondere doen om jou vel se tekstuur te verbeter,” sê sy.

Die impak?

’N SWAK VEL HET ’N INVLOED OP JOU EMOSIES EN SOSIALE LEWE
’n Onlangse studie deur Dermalogica wys dit kan lei tot:
• sosiale onttrekking
• swak selfbeeld
• minder selfvertroue
• depressie
• verleentheid
• selfs afwesigheid by die werk


Wat nou?

Baie produkte wat tot dusver beskikbaar was om jou vel mooi glad te kry was bedoel vir tienervelle wat meer elasties is. Dis daarom te hard vir ouer velle. Dermalogica het onlangs sy MediBac-reeks bekend gestel wat help om jou vel te stabiliseer ná ’n uitslag. MediBac Clearing Skin Wash kalmeer irritasies met teeboom-ekstrak, kamille en bloekom-olie, terwyl botaniese ekstrakte soos arnika en lemoenskil voorkom dat dit weer gebeur. (Skakel 011 268 0018 vir meer inligting.)

Matis Réponse Pureté is nóg ’n reeks wat help om olierigheid te beheer. Dis suiwerend en verwyder dooie selle. Dit sal ook jou vel se tekstuur verfyn. Die groen klei in Réponse Pureté Pure Peel-Off Purifying Face Mask versag jou vel, verklein porieë en absorbeer onsuiwerhede. Caro sê: “Die belangrikste is ’n goeie reiniger. Die grootste fout wat vroue maak, veral wanneer hulle probleme ondervind, is om reinigers te gebruik wat die beskermende suurlaag vernietig. Bestanddele wat ’n reiniger laat skuim, kan jou vel maklik uitdroog,” sê sy. Dr. Hauschka Cleansing Cream wat jou vel diep, maar sagkens reinig en kalmeer, is haar gunsteling-reiniger. (Skakel 021 702 3617 of besoek www. drhauschka.co.za.)

Vir ’n oornag-behandeling wat jou vel vinnig kalmeer en die pH-balans herstel, probeer die gesigolie Thalgo Purifying Extracts. Neutrogena Visibly Clear Oil-free Moisturiser bevat aalwyn en kamille om jou vel te bevogtig, terwyl die olievrye formule voorkom dat jou porieë verstop. Heelparty ander skoonheidshuise het ook doeldreffende reekse wat jou gelaat sal laat gloei, soos Vichy Normaderm, Chanel Pureté Idéale, Eucerin Acne Prone Skin, Garnier Pure en Comfort Zone Active Pureness.