Tee het soos ’n ridder op ’n wit perd sy verskyning in die skoonheidswêreld gemaak. Al hoe meer verskillende vorme van tee word deesdae in velsorgprodukte gebruik danksy die kragtige blare se vermoë om inflammasie te beveg, veroudering teen te werk en vel-irritasie te voorkom.

Sedert die eerste koppie tee duisende jare gelede gedrink is, is dit gewild as geneesmiddel, antioksidant en natuurlik sosiale drankie.

Nou is groen, wit, geel, swart én rooibostee van die gunstelingbestanddele in velsorgprodukte om jou vel mooi, gloeiend en jonk te hou.

Dis bekend dat omgewingsfaktore soos die son, besoedeling, stres, trauma en ’n ongesonde dieet ’n uitwerking op jou gesondheid en ook jou vel het. Dié faktore veroorsaak dat vry radikale vorm, wat die gesonde selle in jou vel aanval en die produksie van kollageen vertraag. Met die afbreek
van kollageenweefsel en hialuronsuurmolekules (wat albei verantwoordelik is vir volume, soepelheid en weerstand in jou vel) verloor jou vel sy fermheid en plooie begin vorm. Die antioksidante in tee is ideaal om dié soort skade, waarteen almal van ons elke dag baklei, te herstel.

TEETYD MET DIE KENNERS

Drie spesialiste verduidelik hoekom tee ’n moet is vir jou vel.

1. Vir sonbeskerming: Natalie guilherme, streeksopleidingsbestuurder van dermalogica

Watter tee is tans gewild in skoonheidsprodukte?
Groen, wit, swart en rooibostee.

Hoekom dié tees?
Groen en wit tee is albei uitstekende bronne van antioksidante en het ’n anti-inflammatoriese werking op jou vel. Albei dié tees het ook die vermoë om te voorkom dat gesonde kollageen in die vel afgebreek word. Swart tee verbeter jou vel se immuunfunksie en help om volume terug te sit. Rooibos is ryk aan antioksidante.

Wat kan ons in die toekoms verwag wanneer dit kom by tee en skoonheid?
Daar is gevind dat wit tee sonskermprodukte se werking verbeter en jou vel se immuunstelsel ’n hupstoot gee.

2. Voorkom skade: Heather braybrooke, nasionale opleidingsbestuurder van elizabeth arden

In watter tees glo jy?
Groen tee is ’n gunsteling-bestanddeel in ons produkte, asook ons unieke mengsel van groen, geel en wit tee.

Waarom word dié tees in jul produkte gebruik?
Dié kombinasie van tees is ’n doeltreffende antioksidant en verbeter boonop die werking van ander
antioksidante en irritasiewerende bestanddele in skoonheidsprodukte.

Hoekom dink jy is tee so ’n gewilde bestanddeel in skoonheidsprodukte?
Bloot oor die wonderlike voordele wat dit inhou. Groen tee is propvol antioksidante. Elizabeth Arden se groentee-mengsel het die vermoë om toekomstige skade deur omgewingsfaktore te voorkom.

3. Dit Het Hope antioksidante Ronel Nel, skakelbeampte van annique

Waarin lê rooibostee se krag?
Rooibostee is ryk aan minerale en is anti-allergies, anti-inflammatories en anti-spasties. Dit word aanbeveel teen hoofpyne, onderbroke slaappatrone, ligte depressie én spanning omdat dit kafeïenvry is. Dit help dus om die sentrale senuweestelsel te kalmeer.

Hoekom is rooibos so gewild in skoonheid?
In ’n era van laserbehandelings, chemiese afskilfering en kosmetiese snykunde is die natuur se vermoë raakgesien om spesifieke velprobleme, soos veroudering en allergieë, teen te werk. Rooibostee het antibakteriese en teenverouderende eienskappe en bevat antioksidante wat betrokke is in die voorkoming van selbeskadiging.

Wat tee vir jou vel kan doen

Wit tee bevat ’n ekstra hoë konsentrasie antioksidante – selfs hoër as dié van vitamien A,C en E.Dis
daarom ideaal in die stryd teen vry radikale en veroudering.

Groen tee was nog altyd ’n gewilde keuse in velsorg aangesien dit ook ’n hoë antioksidant-inhoud het. Dié tee speel klaar met velkwale soos ekseem en aknee aangesien dit boonop ’n antibakteriese werking het. David

White van Givenchy vertel groen tee werk ook om jou vel op te plomp en die ondersteuningsnetwerk te herstel.

Die krag van SA se eie rooibostee is al vir eeue bekend aan die San en Koi vir sy helende en kalmerende bestanddele. Dis in 1968 plaaslik in skoonheid begin gebruik toe dr. Annique Theron, ’n Suid-Afrikaanse ma, gesien het hoe dit haar babadogtertjie se koliek en slapeloosheid verbeter het. Sy het meer navorsing oor rooibostee gedoen en gevind dat dit oor wonderlike antiallergiese en -bakteriese eienskappe beskik.

Vandag is produkte met rooibostee ’n gunsteling vir mense wat sukkel met ’n sensitiewe vel, allergiese reaksies en ekseem. (Organiese groenrooibostee word ook vandag só gebruik, aangesien dit nóg meer antioksidante en ensieme as gewone gefermenteerde rooibos het.)

Swart tee sal op sy beurt jou vel se immuunfunksie aanhelp en volume terugsit. Dis ryk aan vitamien E en C.

Die regte ritueel = beste resultaat

Tee-rituele is tans hoogmode, van die bekende Engelse high tea tot die Japanse tea masters. Daarom het die Britse skoonheidshuis Jo Malone hul Tea Fragrance Blends-reeks bekend gestel. Dit bestaan uit 5 parfuums wat verteenwoordigend is van die teeritueel: soos Earl Grey & Cucumber of Fresh Mint Leaf (die tee), Sweet Lemon (die suiker) en Sweet Milk (die melk). Jy kan die geure oor
mekaar aanspuit tot jy jou gunstelinggeur geskep het.

Die Japanse skoonheidshuis Shiseido bring ook tee-rituele na die voorgrond met hul fokus op omotenashi (’n term wat basies “gasvryheid”beteken). Hulle probeer om hul skoonheidsprodukte net so sorgvuldig en korrek aan kliënte te bied soos ’n Japanse tea master tee sou voorsit – sodat gaste gewaardeer en gerespekteer voel.

DIE GEBOORTE VAN TEE

Die mitologiese Chinese keiser Shennong was glo besig om water te kook toe ’n ligte briesie ’n paar teeblare in sy pot gewaai het. Die aanloklike reuk het gemaak dat hy net eenvoudig dié mengsel moes proe. Hy het die brousel so smaaklik en verfrissend gevind dat hy nie weer gewone water wou drink nie. Maar daar is geen onomwonde bewys waar en wanneer die eerste koppie tee gemaak is nie. Dis wel seker dat die teeplant oorspronklik in Asië gegroei het. Daarom kry Indië en China albei erkenning vir die uitvinding van dié wêrelddrankie.

KEN JOU TEE

  • Wit, groen en swart tee word van dieselfde plant se blare gemaak, die Camellia sinensis.
  • Die verskil lê in die verwerking wat die blare ondergaan: swart tee is gefermenteer, groen tee is gedeeltelik gefermenteer, en wit tee is glad nie gefermenteer nie.
  • Die blare vir wit tee word ook in ’n vroeër stadium gepluk as dié vir groen en swart tee.
  • Rooibostee is ons eie inheemse Aspalathus linearis.

Kies ’n produk propvol anti-oksidante

 
1. Good Stuff Nature Nurture Bamboo & Green Tea Hand Wash (R20)
  2. African Extracts Rooibos Moisturising Hand & Nail Cream (R24)
 
3. Givenchy No Surgetics Plasti-Sculpt Lifting Cream (R970)
  4. Guerlain Aqua Allegoria Aqua Mandarine-Basilic (R565 vir 75 ml EDP)
  5. Clicks Skincare Collection White Tea & Q10 SPF 15 Anti-Aging Day Cream (R74,99)
  6. XIQ Ultra Rich Eye & Lip Contour Serum (R200), by Clicks en Dis-Chem
  7. Annique Forever Young Revitalising Cream (R319)
  8. Elizabeth Arden Green Tea Intense Eau de Parfum (R195 vir 50 ml)
 
9. Jo Malone Earl Grey & Cucumber Cologne (R545 vir 30 ml)
 
10. Bulgari Eau Parfumée Au Thé Blanc Cologne (R595 vir 40 ml)