1. Van watter kleure hou jy die meeste?
a) Pienk, lila en perske
b) Groen en lemmetjie
c) Pers en rooi
d) Oranje en bruin
e) Blou en turkoois

2. Wat is jou gunsteling-drankie?
a) Vonkelwyn
b) ’n Glas droë witwyn
c) Rooiwyn
d) Vonkel-appelsap
e) Mineraalwater

3. Watter oefening geniet jy die meeste?
a) Stap en fietsry
b) Tennis, aërobiese oefening en draf
c) Joga en tai chi
d) Stap met jou hond, draf en tuinmaak
e) Seil en swem

4. Wat dra jy die graagste?
a) ’n Vroulike rok met ’n mooi oopknooptruitjie
b) Eenvoudige klere met ’n mooi snit
c) Boheems- of vintage-geïnspireerde modes
d) Enigiets in ’n luukse materiaal soos fluweel, sy of kasjmier
e) ’n Wit T-hemp en jeans

5. Wat is jou gunsteling-kossoort?
a) Aarbeie en room
b) Meestal vegetaries: gesonde slaaie en pasta
c) Enigiets warm en vol speserye soos kerrie, Mexikaanse of Oosterse disse
d) ’n Tradisionele ete met braaiboud
e) Seekos of vis

6. Watter eienskap beskryf jou die beste?
a) Emosioneel
b) Onafhanklik
c) Passievol
d) Lojaal
e) Avontuurlustig

WAT IS JOU TELLING?

MEESTAL A’s
BLOMGEURE
Jy is sensitief en romanties, en dra graag sagte, vloeiende klere wat jou vroulikheid beklemtoon. Jy omring jouself met mooi dinge en is altyd warm, prettig en goeie geselskap. Jou perfekte parfuum het vars blomnote soos roos, mimosa, freesia, soetemaling, jasmyn, frangipani en katjiepiering.

Probeer Juicy Couture, Guerlain My Insolence, Banana Republic Alabaster en Dior J’Adore L’ Absolu

MEESTAL B’s
GROEN GEURE
Jy is hardwerkend, onafhanklik, selfgeldend en skep die indruk dat jy in beheer is. Die beste parfuums vir jou is vars, onderbeklemtoonde geure wat jou aan die buitelewe herinner, met groen blaar- of bloeiselnote en verkwikkende sitrusgeure soos suurlemoen, lemmetjie en pomelo, óf geure wat die reuk van varsgesnyde gras oproep.

Probeer Thierry Mugler Alien Eau Luminescente, DKNY Be Delicious Kisses, Dior Escale à Portofino en Diesel Fuel For Life Femme Splash and Spray Cologne

MEESTAL C’s
OOSTERSE GEURE
Jy kom dramaties, passievol en misterieus voor. Jy’s uitdagend en anders in jou voorkeure en hou nie daarvan om saam met die groep te gaan nie. Dit neem ’n hele rukkie voor iemand die ware jy leer ken. Jou beste geure is swaarder muskusgeure met patchouli, vanielje, kaneel, kardemom, naeltjies, sederhout en tonkaboon.

Probeer Givenchy Ange Ou Démon, Agent Provocateur Maîtresse, Lancôme Magnifique en Chanel Allure Sensuelle

MEESTAL D’s
AARDSE GEURE
Jy is die sout van die aarde - lojaal, tradisioneel, prakties en betroubaar. Jy’s van nature besorgd oor ander en is baie skeppend en kreatief. Goeie geure vir jou is dié wat soos kruie ruik en selfs ’n bietjie medisinaal is, soos laventel, roosmaryn, boombas-ekstrakte en dennehout.

Probeer Estée Lauder Sensuous, Elizabeth Arden Mediterranean Breeze, La Prairie Midnight Rain en Sean John Unforgivable Woman Black

MEESTAL E’s
OSEAAN-GEURE
Jy is mal oor enigiets wat met die see en water te doen het. Dit word gereflekteer in jou vrye gees en avontuurlustige persoonlikheid. Jy het spasie nodig en hou nie daarvan om ingehok te voel nie. Jy hou van geure met ’n watertema, soos mariene- en waternote, en soek na reuke wat jou aan die souterige see, donderstorms of die strand herinner.

Probeer Issey Miyake L’Eau d’Issey, Missoni Acqua en Bobbi Brown Beach

HOOR BIETJIE HIER

• Thierry Mugler se ALIEN EAU LUMINESCENTE is die eerste parfuum watspog met ’n geurstrokie binne-in die boks. só kan jy reeds déúr die verpakking die geur ruik. Bêre die strokie tussen jou onderklere of gebruik dit as ’n boekmerk.

• Mugler se ANGEL-parfuum het ook ’n nuwe gesig: Naomi Watts (veral bekend vir haar rol in 2005 se King Kong). Die botteltjie is nou ’n dieper blou en die reeks se lyfprodukte ruik danksy nuwe tegnologie nóg langer heerlik.

• Aktrise Angelina Jolie het die parfuumhuis COTY genader om vir haar ’n parfuum te skep. Haar vereiste is dat die naam en geur ’n akkurate weerspieëling van haar persoonlikheid moet wees.

 

NOG ’N GEHEIM

Die geurhuis Jo Malone open einde Oktober 2008 hul deure in Suid-Afrika. Hier word jy aangemoedig om jou eie fyngeur te skep. Wêreldwyd bly hul kenmerk-geur, die vars Lime Basil & Mandarin, ’n wenner.