“As jy ’n spesifieke styl in gedagte het, vat altyd eerder ’n foto salon toe as wat jy vir jou haarstilis probeer verduidelik. As kliënte nie weet watter haarstyl of snit hulle gaan pas nie, sal ek verskillende opsies op ’n iPad vir hulle aanbeveel. In alle gevalle is ’n foto of prent beter.”

Só sê Gary Rom, haarstileerder van die bekendes by Gary Rom Hairdressing.

Neem ook jou leefstyl in ag. “Vir ’n ma met ’n pasgebore baba is ’n styl wat maklik is om te onderhou beter, terwyl ’n sjiek bob perfek sal wees vir ’n ouditeur.”

Lees meer op Die Gary Rom-blog!

Sean Cox, salon-eienaar van Swept in Morningside, Johannesburg, sê kliënte moet veral baie duidelik wees oor die lengte van hul nuwe haarstyl. “Kyk eerder na die hare agter op jou kop om jou lengte te bepaal omdat die hare of lae om jou gesig nie so vinnig groei soos dié agter nie.”

“Kliënte bring gewoonlik foto’s van haarstyle wat die teenoorgestelde kleur, tekstuur of dikte as hul eie hare is en daarom nie sommer herskep kan word nie. ’n Brunet sal byvoorbeeld nooit die tekstuur van ’n blonde haarstyl kan verkry nie,” sê Sean. Probeer daarom eerder na haarstyle soek wat pas by jou hare se kleur en tekstuur.

Pas jou haarstyl by jou gesigvorm?

Helaas kan jou voorkoms en klerestyl vir die haarstilis ’n idee gee van jou persoonlikheid en stylvoorkeure wat hulle sal help om jou nuwe haarstyl daarby aan te pas. Dink daarom twee keer voordat jy jou sweetpak na die haarsalon aantrek!