Die wintermaande en ’n besige skedule laat soms jou vel gedehidreerd, moeg en vaal. Met Lentedag om die draai, is dit nou die perfekte tyd om jou velsorgroetine te vernuwe vir ’n sprankelende vel. Volg dié stappe van Charlene Warwick, grimeerkunstenaar en voorkomskonsultant van Face & Grace Make-up Agency.

Hersien

1. Soos wat die dae warmer word, kan die vogryke produkte wat jy tydens die winter gebruik het te ryk vir jou vel wees. Probeer om nou ligter formules te gebruik soos jel-reinigers, getinte vogrome en meer vloeibare sonskerms (moet nooit die huis verlaat sonder ’n sonskerm wat ’n SBF van minstens 30 het nie).

Probeer: Vichy Normaderm Gel Cleanser (R175), Clarins HydraQuench Tinted Moisturiser in Peach (R395) of Kiehl's Super Fluid UV Defense Ultra Light Sunscreen SPF 50+ (R410). By Edgars 2. Gooi enige grimeerprodukte wat ouer as ’n jaar is uit, asook enige produkte wat ’n verandering in kleur, reuk of digtheid toon. Ou grimeerprodukte bevat soms bakterieë wat kan lei tot velirritasie, -uitslag of selfs ’n allergiese reaksie.

Wenk: Skryf die datum op ’n grimeerproduk met ’n merkpen sodra jy dit koop. Só sal jy maklik kan sien wanneer die produk sy vervaldatum bereik het.

Vernuwe

3. Afskilfering van jou gesig en lyf is die beste manier om ontslae te raak van dooie selle wat tydens die wintermaande opgebou het. Dit stimuleer ook sirkulasie en die vervaardiging van nuwe selle vir ’n gesonde gelaat. Jy kan selfs ook vir ’n gesigbehandeling (facial) of diep-afskilferingsbehandeling (peel) gaan.
Wenk: As jy jou lyf afskilfer, fokus op jou knieë, elmboë en hakke om van growwigheid ontslae te raak.

Probeer: Dermalogica Daily Microfoliant (R850), Neutrogena Oil Free Acne Wash Pink Grapefruit Foaming Scrub (R70) of Milk Solutions Tomato and Basil Hand & Body Scrub (R283)

Verfris

4. Verfris jou vel deur dit ’n welverdiende vog-inspuiting te gee. Kies ’n gesigmasker wat jou velbehoeftes aanspreek, soos die vermindering van die voorkoms van plooie, onegalige velkleur en -tekstuur of dehidrasie. As jy geneig is tot ’n droë vel, is dit ’n goeie plan om ook ’n serum by jou velsorgroetine te voeg.

Probeer: Sorbet Smoothing Face Mask (R34), Clinique Smart Custom-Repair Serum (R700 vir 30 ml) of Estée Lauder Advanced Night Repair Synchronized Complex II (R675 vir 30 ml)