Net 2% van die wêreldbevolking se hare is natuurlik blond. Tog verkies baie van ons dié sexy haarkleur. “Hoe jy oor jou hare voel, beïnvloed jou selfvertroue,” sê Dominique Stichling van die skoonheidshuis Garnier. Daarom is dit belangrik om die regte skakering vir jou gelaat en styl te kies. Hiér deel Dominique haar wenke om tuis jou hare perfek blond te kleur sodat dit glansend en natuurlik lyk.

Die Gary Rom-blog: Só kry Melinda Bam haar warm-blonde hare

  1. Hoe kies ek ’n skakering?
Dis belangrik om die regte blonde skakering te vind wat by jou gelaatskleur en mode- en skoonheidstyl pas. “As jy reeds ’n blondine is, bepaal of jou hare ’n koel of warm ondertoon het,” sê Dominique. Doen dit deur in natuurlike lig eers net silwer juwele aan te sit en daarna net goue juwele. Die juweel-skakering wat jou gesond laat lyk en jou gesig ophelder, is ’n goeie aanduiding van jou vel- en haarkleur se ondertone. Silwer juwele lyk die beste saam met koel ondertone, terwyl goue juwele by warm ondertone pas. As jy ’n koel blondine is, kies ligte blonde skakerings soos asblond. Vir "warm" blondines is goud- en roomskakerings ideaal.
 Dis belangrik om die regte blonde skakering te vind wat by jou gelaatskleur en mode- en skoonheidstyl pas.

  1. Sal ek my bruin hare tuis blond kan kleur?

As jy ’n brunet is en jy wil graag jou hare blond kleur, kan jy dit tuis doen deur eers ’n voorverligter (pre-lightener) te gebruik, stel Dominique voor. Dié produk berei jou hare voor vir jou ligter blonde skakering deur eers jou huidige kleur te verlig. “Jy sal met ’n voorverligter van ligbruin na blond kan gaan, of van bruin na donkerblond.” Vir ’n meer drastiese kleurverandering is dit beter om ’n haarsalon te besoek om te voorkom dat jou hare deur die kleurproses beskadig word.

Versorg somerhare só - lees meer!

  1. Hoe knap ek die kleur op van donker haarwortels wat begin uitgroei?
As jy die kleur van jou haarwortels wil opknap, kan jy die haarkleur eers net aan jou haarwortels aanwend en dit vir 15 minute aanhou. Wend dan die haarkleur aan die res van jou hare en hou dit vir ’n verdere 10 minute aan. “Dis beter om altyd al jou hare te kleur wanneer jy jou haarwortels wil opknap. So verseker jy dat jou hare orals dieselfde skakering van blond is,” sê Dominique.
 “Hoe jy oor jou hare voel, beïnvloed jou selfvertroue.”

  1. Hoe sorg ek vir my blonde hare?

Hare wat blond gekleur is, is geneig om maklik droog te voel weens die bleikproses, hitte-stilering en blootstelling aan die son, sê Dominique. Kies daarom ’n haarkleur wat bevogtigende olies soos avokado-, olyf- en swartbessie-olie bevat. Gebruik ook ’n sjampoe en opknapper wat jou haarkleur langer sal laat hou. Dominique stel voor jy gebruik daarby ’n haarsproei wat spesiaal geformuleer is om blonde haarkleur te beskerm en om te voorkom dat jou hare roeskleurig begin lyk.

In die skoonheidstoor: Helder of nude lippe?

  1. Wat is die grootste moets en moenies vir blonde hare?

Moenie

  • Moenie blonde hare met hitte stileer sonder om ’n hittebeskermingsproduk te gebruik nie. Dit sal jou hare net nog meer uitdroog.
  • As jy donker hare het en jy wil jou hare blond kleur, maak jou hare geleidelik ligter. Om in een kleursessie van donker na lig te gaan kan jou hare baie beskadig en dit bros en gebreek laat.

Moet

  • Gebruik weekliks ’n haarbehandeling wat hare bevog en jou gesonde blonde kleur onderhou.
  • As jou hare geneig is om "oranje" te lyk, kies ’n blonde haarkleur-skakering wat ’n grys skynsel het om die oranje te neutraliseer.

Lady Gaga is verloof! Kyk hiér na ’n foto van haar ring