Soos wat ons ouer word, neem die kollageen-vervaardigingsvermoë van ons vel af. Dit kan daartoe lei dat jou lippe dun en plat voorkom. Gelukkig is daar verskeie grimeertruuks wat jy kan gebruik om jou lippe voller te laat lyk, sê René Stephenson, nasionale opleidingsbestuurder van die Camelot Spa Groep.

Hier is ons top-wenke vir lippe wat voller lyk

1. Skilfer jou lippe gereeld af. Dit verwyder dooie velselletjies en sal die kleur van jou lippe ook eweredig laat vertoon, sê René.

2. Dis belangrik om jou lippe gereeld te bevog, veral net voor jy grimering aanwend. Dit sorg dat jou lippe sag en gehidreerd bly en sal ook help om jou grimering langer te laat hou.

Probeer: Maybelline Baby Lips Moisturising Lip Balm in Berry Bomb (R30) of Labello Fruity Shine Peach (R19)

3. Wend ’n tikkie onderlaag aan jou lippe om fyn lyntjies te vul en jou lippe ’n meer egalige tekstuur te gee.

Probeer: Clarins HydraQuench Tinted Moisturiser SPF 15 in Porcelain (R395) of Estée Lauder Double Wear Light Stay-In-Place Makeup SPF 10 in Intensity 1 (R450)

Modelle verskyn sonder grimering op loopplank - lees meer!

4. Laat jou lippe groter lyk deur ’n lipomlyner-potlood, wat by jou lipstiffie-skakering pas, nét bo jou lippe se natuurlike vorm aan te wend. Begin altyd deur eerste die boog in die middel van jou boonste lip te vorm. Vul ook jou lippe liggies in met die lipomlyner-potlood vir kleur wat langer hou.

Probeer: Dior Lipliner Pencil in Diorette (R340)(Van Oktober beskikbaar vir beperkte tyd) of Smashbox Always Sharp Lip Liner in Fuchsia (R230)

5. Nes ’n klein swart rokkie jou meer slank kan laat lyk, kan donker lipstiffieskakerings jou lippe ook kleiner laat lyk. "Ek gebruik gewoonlik helder skakerings of skakerings met ’n warm ondertoon om lippe te laat pop, byvoorbeeld ’n rooi lipstiffie met ’n oranje ondertoon," sê René.

6. Lipstiffies met ’n mat-afwerking is geneig om jou lippe plat en kleiner te laat lyk. Mik daarom eerder vir lipstiffies met ’n glansafwerking. Wend ook ’n tikkie deursigtige lipglans in die middel van jou lippe aan.

Probeer: L'Oréal Colour Riche Extraordinaire in Rose Finale (R150), Revlon Colorstay Overtime Lipcolor and Moisturizing Topcoat in Constantly Coral (R179), M.A.C Mineralize Glass Lip Gloss in Vibrant Vibe (R230) of Bodyography Lip Vapour in Sequin (R290)

Gebruik dié lipstiffie vir intense kleur op jou lippe