Ná jou tienerjare dink jy jou kans om aknee te hê is iets van die verlede, maar navorsing het gewys dat tot 50% van vroue tussen die ouderdom van 20 en 40 met dié probleem gediagnoseer word.

Hoe verskil volwasse-aknee van tiener-aknee?

Terwyl tiener-aknee hoofsaaklik veroorsaak word deur olierigheid en die hormone wat tydens puberteit inskop, is daar ook ander faktore wat tot volwasse-aknee bydra.

Inflammasie is die waarskynlike oorsaak van volwasse-aknee. Jy sal minder swartkoppies hê as ’n tiener en die uitslag sal hoofsaaklik om jou mond, ken en kakebeen voorkom. Chroniese spanning (’n konstante toestand van stres wat daartoe kan lei dat jou vel oortollige sebum afskei) dra ook by tot die toestand.

Skoonheidsroetine vir volwasse-aknee

Sonette Donker, kommunikasiebestuurder van Dermalogica, verduidelik hoe jou skoonheidsroetine behoort te lyk as jy volwasse-aknee het:

Stap 1: Reinig in die oggend én aand

Om te reinig is baie belangrik omdat dit enige vuilheid en grimering verwyder wat tot ’n uitslag kan lei. Dit sorg ook dat jou vel aktiewe bestanddele kan absorbeer wat diep binne die porieë moet werk. Was jou gesig vir 2 tot 3 minute lank.

Kyk uit vir dié bestanddele wat inflammasie streel terwyl jy reinig: Salicylic Acid, Chamomile, Lemon Peel Extract.

Stap 2: Skilfer 2 tot 3 keer ’n week af

Gereelde afskilfering sal dooie selle verwyder, wat porieë kan verstop en ’n uitslag vorm. Belê in 'n goeie afskilferaar met bestanddele soos Lactic Acid, Glycolic Acid, Salicylic Acid.

Stap 3: Wend 2 tot 3 keer ’n week ’n gesigmasker aan

’n Gesigmasker maak vel dieper skoon, absorbeer oortollige olie, kalmeer inflammasie en vernietig bakterieë.

Kyk uit vir dié bestanddele: Salicylic Acid, Bentonite Clay, Kaolin Clay, Zinc, Caffeine, Oat Kernel, Licorice.

Stap 4: Verfris dag én nag

Moenie van dié stap vergeet nie! Dit is bevogtigend, strelend en anti-inflammatories.

Kyk uit vir dié bestanddele: Lavender, Aloe Vera, Salicylic Acid.

Stap 5: Gebruik ’n produk met aktiewe bestanddele een maal per dag

Hier moet jy ’n produk kry met ’n hoër konsentrasie bestanddele wat jy dan net op die dele van jou gesig aanwend waar jy ’n uitslag het. Dit is dikwels anti-bakterieel en verminder inflammasie.

Kyk uit vir dié bestanddele: Benzoyl Peroxide, Sulfur, Zinc, Salicylic Acid.

Stap 6: Bevog in die oggend én aand

Kyk uit vir ’n vogroom met ’n ligte formule of een ryk aan anti-inflammatoriese bestanddele.

Kyk uit vir dié bestanddele: Niacinamide, Salicylic Acid, Hyaluronic Acid, Lavender.

Stap 7: Wend daagliks sonbeskerming aan

Dié stap is baie belangrik, want dit voorkom pigmentasie wat kan ontwikkel as gevolg van inflammasie veroorsaak deur sonbrand. Vir ’n sensitiewe toestand soos volwasse-aknee is bestanddele soos Zinc Oxide en Titanium Oxide in ’n sonskerm die beste opsie.