SARIE se skoonheidspan het ’n paar tegnieke met ’n stileer-yster (hair straightener) beproef. Vandag wys ons jou stap vir stap hoe om natuurlike golwe én glansryke krulle te skep met dié enkele toestel wat jy gewoonlik gebruik om jy hare mee reguit te maak.

Wees ’n strandmeisie

FOTO: Liesl du Toit FOTO: Liesl du Toit

Stap 1:

Wend ’n produk aan wat jou hare teen hitte beskerm asook ’n produk wat jou hare volume gaan gee nadat jy dit gewas het en blaas dit droog.

Stap 2:

Neem ’n string hare van omtrent 3 cm breed. Begin teen die wortels van jou hare en trek die stileer-yster ’n paar sentimeter na onder.

Stap 3:

FOTO: Liesl du Toit FOTO: Liesl du Toit

Draai die stileer-yster nou 180 grade na bo en hou dit daar vir ’n paar tellings voordat jy jou yster weer terugdraai.

Stap 4:

Trek die haar-yster weer ’n paar sentimeter na onder en draai dit dan 180 grade in die teenoorgestelde rigting (met ander woorde na onder) en hou dit in hierdie posisie vir ’n paar tellings voordat jy weer eens die yster terugdraai.

beach waves (3)Stap 5:

Herhaal stap 3 en 4 tot by die haarstring se punt. Verdeel die res van jou hare in stringe en doen dieselfde met elke string. Trek dan jou vingers liggies deur jou hare om die golwe losser te maak en spuit dit met ’n bietjie haarsproei.

Kyk hierdie video om te sien hoe:

Beproef deur ’n SARIE-leser:

Donett Havenga, ’n SARIE-leser van Rustenburg het nadat sy ons video-les vir hierdie voorkoms die naweek op Instagram gesien het, die tegniek beproef. Die resultaat? Pragtige golwende hare!

“Ek sukkel om die strandvoorkoms met my krultang te kry, toe probeer ek dit met die stileer-yster. Ek dink dit het baie mooi uitgewerk,” sê sy.

FOTO: Donett Havenga FOTO: Donett Havenga

"Die video het dit op ’n maklike en vinnige manier vir my gewys. Ek sien uit na nog video's wat ek voor werk of ’n aand uit sommer op my foon kan kyk vir inspirasie."

Volg Donett se voorbeeld en kombineer jou golwe met ’n middelpaadjie en fyn vlegsel.

Glansryke krulle

FOTO: Charis Labuschagne FOTO: Charis Labuschagne

Stap 1:

Wend ’n produk aan wat jou hare teen hitte beskerm asook ’n produk wat jou hare volume gaan gee nadat jy dit gewas het en blaas dit droog.

Stap 2:

Neem ’n string hare wat omtrent 3 cm breed is en knyp dit vas in die  stileeryster op die deel waar jy wil hê die krul moet begin. Trek nou die haar-yster so 2 sentimeter na onder.

krulle (3)Stap 3:

Draai jou stileer-yster nou 180 grade na onder.

Stap 4:

FOTO: Charis Labuschagne FOTO: Charis Labuschagne

Hou die stileer-yster in dié posisie terwyl jy dit nou na die punte van jou hare trek.

Stap 5:

Herhaal hierdie proses (stappe 2 tot 4) op die res van jou hare, wat jy ook in stringe verdeel. Onthou om die krulle met haarsproei te spuit. Hoe stadiger jy die yster deur jou hare trek, hoe stywer sal die krul wees!

Kyk hier na ons Instagram-video om te sien hoe!

Die skoonheidspan het hierdie tegnieke met 'n Remington Keratin Therapy Pro Straightener gedoen. Lees hier wat ons van dié stileer-yster dink.