As sekere skoonheidsprodukte jou vel maklik uitdroog en dit rooi, jeukerig of branderig laat voel, het jy moontlik ’n sensitiewe vel. Soms kan die bestanddele in skoonheidsprodukte selfs tot ’n allergiese uitslag lei en in só ’n geval is dit beter om jou dermatoloog te besoek.

Topwenke vir ’n sensitiewe vel:

1. Weet watter bestanddele jou vriend en watter jou vyand is. Kyk uit vir velsorgprodukte met die woorde “hypo-allergenic” en “fragrance-free” op die verpakking en produkte wat ryk is aan antioksidante en bestanddele wat bevog. Kies ook eerder grimeerprodukte met ’n ligte tekstuur wat nie olierig is nie omdat dit nie sommer jou porieë sal verstop nie.

2. Minder is meer wanneer dit kom by velsorgprodukte. Hoe minder bestanddele jou velsorgprodukte bevat, hoe minder is die kans vir irritasie. As jou vel dit toelaat, probeer ook so min as moontlik produkte gebruik tydens jou velsorgroetine.

Maak só met volwasse aknee - lees meer!

3. Sommige oogskadu’s bevat ’n blou kleurpigment wat geneig om ’n sensitiewe vel en oë te irriteer. Gebruik dan eerder oogskadu’s in neutrale skakerings soos beige of bruin omdat dit minder irriterende kleurpigmente bevat.

4. As jou vel sensitief is vir parfuum kan jy jou klere op jou bed uitpak, dit liggies met jou gunsteling-parfuum spuit en dit ’n paar minute gee om op die klere droog te word. Só kan jy steeds lekker ruik sonder dat jou parfuum direk in kontak met jou vel kom.

5. Ongelukkig kan omgewingsfaktore soos die son, wind en koue temperature ’n sensitiewe vel vererger. Dra altyd ’n sonskerm wat UV-strale fisiek uitblok en gee jou vel tydens die kouer maande ekstra vog deur ’n romerige reiniger vir jou gesig te kies.  

Sensitiewe oë? Wend só maskara aan:

  • Moenie jou maskara te naby aan die wortels van jou wimpers begin aanwend nie. Wend eerder jou maskara ’n millimeter of twee bo jou wimperwortels aan en fokus op die punte.
  • Moenie die onderste waterlyn van jou oë met oogomlyner omlyn nie. Gebruik dit eerder op die deel net onder jou onderste wimpers.
  • Moenie maskara aan jou onderste wimpers aanwend nie. Gebruik eerder oogskadu om hierdie deel van jou oë te beklemtoon.

Bekendes deel hul skoonheidsgeheime

Ons gunsteling-produkte vir 'n sensitiewe vel:

Skoonheidsvrae: Velsorg vir jou 20's en 30's

Bronne: www.womenshealthmag.com, www.thebeautydepartment.com