Beenhare skeer – ons almal weet hoe om dit te doen, maar hoe kry jy die perfekte skeer keer op keer? Volg dié wenke vir sygladde bene vir die somer.

Wat het ek nodig?

1. Die regte skeermes: Nie alle skeermesse werk vir almal nie omdat jou veltekstuur, haargroei-tempo en hoe hard jy op jou vel druk terwyl jy skeer van persoon tot persoon verskil. Eksperimenteer met verskillende soorte skeermesse om jóú gunsteling te vind.

2. ’n Lyf-afskilferaar: Deur jou lyf minstens twee keer ’n week af te skilfer verwyder jy dooie en droë velselle wat ingroei-haartjies sal voorkom.

3. Skeerroom of -jel: Gebruik altyd ’n skeerroom of -jel wanneer jy skeer. Dit verseker die beste resultate, terwyl dit ook jou vel bevog. As alternatief kan jy ook ’n lyfwas of selfs opknapper gebruik. Moet egter nooit ’n koekie seep gebruik nie! Dit is nie bevogtigend of sag genoeg nie, wat kan lei tot ’n droë en geïrriteerde vel.

4. Sensitiewe vogroom: ’n Alkoholvrye vogroom ná jou skeersessie sorg dat rooi of geïrriteerde vel gekalmeer word en los jou vel sag en blink.

Blaas só nuwe lewe in jou velsorgroetine

Wanneer is die beste tyd om te skeer?

  • Probeer om eerder in die aand as in die oggend te skeer. Terwyl jy slaap kan jou bene soms ’n bietjie opswel (veral in die somer), wat kan veroorsaak dat die haartjies op jou vel dieper in hul follikels inkruip.
  • Die beste tyd om te skeer is ook aan die einde van jou stort- of badroetine. Só word jou vel en haartjies sagter wat dit makliker, en minder ongemaklik, sal maak om te skeer. Pasop aan die ander kant om nie té lank in die bad te lê nie omdat jou haarfollikels dan weer sal opswel.

Produkte en wenke vir ’n sensitiewe vel - lees meer!

Watter skeertegniek werk die beste?

  • As jy jou beenhare skeer, begin by jou enkels en skeer opwaarts in die teenoorgestelde rigting waarin die hare groei. As jy ’n baie sensitiewe vel het en maklik uitslag kry, is dit egter beter om afwaarts te skeer.
  • Skeer in alle rigtings wanneer jy jou onderarmhare skeer - opwaarts, afwaarts en dan in die vorm van ’n X werk perfek.

Voed jou vel van binne met dié superkosse

Nóg wenke

  • Moenie jou bene afskilfer of was nadat jy geskeer het nie omdat die skeerproses klaar droë vel en haartjies verwyder.
  • Vermy produkte wat alkohol, mentol of peperment bevat omdat dié bestanddele geneig is om vars geskeerde vel te irriteer. Reukvrye produkte is ook ’n beter keuse.
  • Vervang jou skeermes wanneer die lemmetjies dof begin lyk.

FOTO: Ulrich Knoblauch @ Supernova MODEL: Roxanne Matthee @ Boss Models HARE en GRIMERING: Bernice Dodd van Infidels FOTO: Ulrich Knoblauch @ Supernova
MODEL: Roxanne Matthee @ Boss Models
HARE en GRIMERING: Bernice Dodd van Infidels

FOTO: Instagram  @adoremeorelse FOTO: Instagram @adoremeorelse

Bronne: www.paulaschoice.com, www.laurenconrad.com.

Kombineer jou velsorgroetine en ekstras só