Daar is min dinge wat ’n vrou so mooi laat voel soos ’n gesonde kroon, sê dr. John Gray, ’n bekende trigoloog (haarkundige) van Durban. Hy het gister allerhande interessante haarfeite en -mites gedeel tydens ’n bekendstelling van die haarsorgreeks Pantene.

1. Ons hare is nie net daar om ons mooi te laat lyk nie. Dit dien ’n belangrike evolusionêre doel. Dit het ons voorouers se kopvel teen die son beskerm. Mense van Europese afkoms het byvoorbeeld dunner hare omdat die son in dié deel van die wêreld nie so fel is nie. Daarteen is inwoners van Afrika se hare meer krullerig om die son af te weer.

2. Allerhande nuwe haarprodukte is oor die afgelope jare ontwikkel omdat die toestand van vroue se hare verander het en hulle daarom ander behoeftes het. Die twee grootste redes vir hierdie verandering?

*Al hoe meer vroue kleur hul hare blond. “Dis dalk omdat ’n klein deel van die wêreldbevolking blond is en dié kleur vroue uniek laat voel,” sê dr. Gray.

*Vroue gaan toenemend vir keratien-behandelings (’n behandeling wat jou hare reguit maak).

Albei hierdie faktore beskadig jou hare. Dis hoekom produkte wat jou hare behandel en voed in groter aanvraag is.

3. Die grootste sondaar wat jou hare beskadig, is enige chemiese proses, soos om jou hare ligter te kleur en dit te perm. Dít veroorsaak dat die buitenste laag van jou hare verwyder word en jou hare dan makliker vog verloor en droog is.

4. Dis ’n mite dat jou hare gewoond raak aan haarprodukte en dat dit dan nie meer doeltreffend is nie. Inteendeel, dis belangrik om enige haarproduk tyd te gee om sy werk te doen. Gebruik dieselfde haarprodukte vir minstens drie maande.

5. Jy verloor tussen 50 – 80 hare per dag en jou hare groei sowat 1 cm in ’n maand.

6. Vanaf 35 word die omtrek van elke haar kleiner, daarom is jou hare dunner. Dis hoekom jy nie meer die bos hare het wat jy op 18 gehad het nie.

7. Medikasie wat jy vir ’n siektetoestand neem en kitsdiëte kan veroorsaak dat jou hare uitermate uitval. As jy jou vingers deur jou hare trek en daar bly ’n klomp hare in jou hande agter, is dit tyd om ’n dokter te sien.

8.Sommige vroue se hare is geneig om met tye meer uit te val. Dit gebeur gewoonlik een keer ’n jaar en die haarverlies keer ná ’n tyd terug na normaal.

9. Die grootste voorspeller van jou hare se toestand is genetika. As jou ouers dun hare het of vinnig grys geword het, is die kans goed dit gaan ook jou lot wees.

10. Lang hare se punte is dikwels droog en beskadig. Die beste oplossing is om ’n groot deel daarvan af te sny. Hare het ’n beperkte “leeftyd” omdat die haarproteïene ná ’n ruk uitgedien word en só beskadig is dat dit nie kan herstel nie.

11. Baie vroue is bekommerd oor sulfaat wat in hul sjampoo gebruik word, maar dis onnodig. Dié bestanddeel word verdun en is daarom veilig. Sulfaat is belangrik omdat dit ’n sjampoe laat skuim.

12. Borsel jou hare met ’n kam van plastiek. ’n Houtkam gaan jou hare staties maak.

13. Daar is geen kliniese bewyse dat aanvullings wat jy drink ’n invloed op die gesondheid van jou hare het nie.

14. Die idee dat jy jou hare met koue water moet afspoel nadat jy sjampoe en opknapper gebruik het sodat die kutikels plat gaan lê en jou hare dan gladder lyk, is ’n “totale fantasie,” sê dr. Gray.