SARIE se dekorredakteurs deel wenke vir natuurliker skoonmaak:

1. Spuit verdunde wit asyn (gelyke hoeveelhede water en asyn) op troeteldiere se piepiekolle. Dit help met slegte reuke en om die kolle te verwyder.

2. Meng 1 e koeksoda en 1 koppie wit asyn en gooi dit in jou wasbak af. Volg met 'n ketel kookwater. Dit los vet op en elimineer slegte reuke.

3. Los 1 t elk koeksoda, sout en skottelgoedseep in 'n koppie warm water op. Laat week jou juweliersware hierin en borsel dit dan met 'n skoon, sagte tandeborsel totdat dit weer blink.

4. Steriliseer kombuis- en badkamersponse 2 minute lank op hoog in die mikrogolfoond.

5. As jou strykyster swart aangepak is, smeer tandepasta daarop en laat dit 'n halfuur staan. Vee dit skoon met 'n sagte lap.

Interior of a real laundry room with a washing mac
FOTO Getty Images / Gallo Images

Aksieplan vir groot skoonmaak:

1. Maak jou stofsuier silwerskoon, want dit gaan die held in dié storie wees.

2.  Skud gordyne en matte uit. Stof deeglik af en borsel lampskerms met ’n sagte borsel.

3. Was deure, kosyne, kaste en deurknoppe met warm water met ’n bietjie ontsmettingsmiddel in.

4. Ontkalk jou ketel met gelyke dele water en asyn, laat week 1 uur en kook dan. Gooi water uit en spoel met skoon water. Maak filters van wasmasjien, stoof, tuimeldroër en skottelmasjien skoon. Gooi ’n mengsel van 1 e koeksoda en 1 k wit asyn in jou afvoerpype af, gevolg deur ’n ketel vol kookwater.

5. Pak koskas reg en gaan vervaldatums na.

6. Draai matrasse om.

7. Was verekussings twee op ’n slag op ’n sagte siklus. Tuimeldroog dit saam met ’n paar tennisballe of styf opgerolde sokkies om die vere los te klop.

8. Pak winterklere en skoene weg en sorteer somergoed: hang soorte bymekaar of hang volgens kleure op, en wees streng oor wat jy gaan hou.

9. Takel die badkamer. Gooi koeksoda en suurlemoensap in ’n emmer warm water en was alles daarmee af.

10. Stofsuig, stofsuig, stofsuig. Onthou om groot meubels weg te skuif en onder kaste en beddens ook te stofsuig.

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images