Sy is dieselfde, maar tog ook nie. Want sy het iets geleer, bieg sy, wat haar uitkyk op die lewe verander het. “Elke vrou is sterk ... uit eie reg,” sê Emari Gieselbach, die grootoog-kunsonderwyseres met die vreeslose kort haarstyl wat verlede jaar as SARIE se 10de Voorbladgesigwenner gekroon is.

“Daar is nie iets soos ’n ‘gewone’ vrou nie, vroue is sterker as wat hulle ooit kan dink.”

Mense herken haar nou op straat, en dit bly vir haar vreemd. Maar die ma van twee van Centurion is nie spyt nie. “Ek het soveel nuwe vriendinne en vriende gemaak. Mense wat ek vir ewig saam met my sal dra.”

En die bekende modelagentskap Boss, wat groot name soos Demi-Leigh Nel-Peters, Suid-Afrika se Mej. Heelal 2017, en Tamaryn Green, die huidige Mej. Suid-Afrika, verteenwoordig, het haar onlangs ’n modelkontrak aangebied. “Ek het by hul kommersiële afdeling aangesluit.”

In Oktober verlede jaar het Emari op vier verskillende voorblaaie van SARIE verskyn – ’n eerste vir die Voorbladgesig-kompetisie.

Emari Gieselbach tydens haar SARIE Voorbladgesig-kompetisie. FOTO Leana Clunies-Ross (middel)

“Ek dink nie enigiemand kan ooit gewoond raak om hulself op ’n voorblad te sien nie. Veral nie viér nie!” lag sy. “Dit is steeds onwerklik.”

Sy het raad vir enigeen wat wil inskryf. “Waarom dan nie?! Wat het jy om te verloor? Ek het nie ingeskryf omdat ek enigsins gedink het ek sou wen of selfs die Top-40 haal nie. Ek het my inskrywing drie dae voor die sluitingsdatum ingestuur. Jy weet nooit wat kan gebeur nie. Verlede jaar hierdie tyd sou ek nooit kon droom dat ek op ’n SARIE-voorblad sou wees nie. Enigiets is moontlik!”

Toe sy boonop die Top-10 haal, het sy byna van haar stoel afgeval. “Ek het van die begin af besluit om geen verwagtinge te hê nie, maar elke oomblik op te slurp soos ’n spons. Ek wou alles geniet, en memories maak. Ek het met soveel meer uitgestap as ín. Die voorblad was net die kersie op die koek.”

Emari reken elke deelnemer moet net die oomblik geniet, of hulle nou wen of nie. “En wees jouself ... niemand kan dit beter as jy wees nie.”

Emari saam met van haar leerlinge. FOTO Instagram / Emari Gieselbach

In haar Oktober 2018-redakteursbrief het Michélle van Breda, SARIE-redakteur, só geskryf: “In ’n voorbladreis van weke het Emari duisende ander uitgestof om die Oktober-SARIE haar eie te maak. Sy het dit gedoen met flair en selfvertroue. Met toewyding en ’n goeie skoot pret en humor. Sy’t die kamera haar alles gegee, haar vreugdes en vrese gedeel, en met die louere weggestap.”

’n Bietjie Marilyn, ’n tikkie Audrey ... Emari se unieke skoonheid het SARIE-lesers twee keer laat kyk. Haar skoonheidswenke? “Sit elke dag sonroom aan, was jou gesig elke dag. Moenie met grimering aan gaan slaap nie – en ’n goeie bevogtiger hou die plooie weg!”

Emari saam met haar twee dogters. FOTO Instagram / Emari Gieselbach

Sy is lief vir Afrikaans. “Ons taal is van die jongste, maar ook sterkste. Haar krag lê in haar vermoë om aan te pas saam met die tye. Dit is my moedertaal en ek is trots op Afrikaans.”

En hoe gaan haar opvolger lyk? Nes ons sien Emari uit na vanjaar se kompetisie.

“My sinoniem vir SARIE? Vriendin ... ek het so baie geleer.”

SARIE Voorbladgesig 2019

Die inskrywings open volgende Dinsdag, 23 April.

Die tyd het uiteindelik aangebreek ... ons is op soek na ons volgende Voorbladgesig. En met SARIE wat 70 word, gaan vanjaar spesiaal wees: Daar is geen ouderdomskategorieë nie en ons gaan gróót in egte SARIE-styl. Kry jou drie inskrywingsfoto’s reg, want van volgende Dinsdag kan jy begin inskryf. Alrie, Tana, Marike, Monique, Carlize, Elmaré, Nicola, Yolani, Nadia, Emari ... is jou naam volgende?

SARIE Voorbladgesig 2019 in trotse samewerking met INOAR, Isa Carstens Akademie en Kalahari