"Dit gaan oor die volle prentjie. Oor die inspan van al ons sintuie. Só het die wêreldbekende Heston Blumenthal nou die dag op ’n besoek aan SA gesê. Natuurlik het dié wonder-sjef (sy restaurant in Bray, Engeland, is al as die beste ter wêreld bekroon) oor kos en oor eet gepraat, maar ek glo dit geld ook vir dekor en elke stukkie doen-dit-self. Want om ’n woonplek in ’n hartsplek te omskep vra veel meer as professionele vernuf; dit vra passie en sonderlinge skeppendheid. Dit vra die volle prentjie.

"Argitektoniese en binneversier-meesterstukke is imponerend, ja, maar ’n huis met hart is een wat met die instap al met jou praat. Die mooiste blyplekke was nog altyd dié waar die emosie vlak lê en die storie hoekie vir hoekie en vertrek ná vertrek ontvou. Só ’n huis verklap ’n menigdom gevoelens en boodskappe: lewensvreugde, meelewendheid, ongekunsteldheid, warmte, humor, omgee. Al jou sintuie word geprikkel – of dit deur kyk-weer-kleure, soet geure, interessante teksture of net die vrolike geklingel van skulpe in die wind is.

"Op die skilderagtige Paternoster aan die Weskus het ons ons hart verloor op ’n handjie vol huise by die see. Almal sielsplekke wat jou binnenooi. Elk wonderlik vrygewig met kreatiewe idees en bekoorlike wenke. Elk ’n kykie in ’n leefstyl van waarde. ’n Volle prentjie, elkeen, wat inspireer."

Michélle van Breda

As jy nog nie die Weskus ontdek het nie, is dit nou die tyd. Vir ons het dit ’n bekoring wat moeilik is om te beskryf. Wat is dit wat jou so roep, want die landskap is vaal en die water is koud? Maar as jy eers een keer op die wit strande geloop het en die blou-blou water met jou eie oë gesien het, móét jy net weer en weer terug. Dit is soos ons veral oor Paternoster voel. Begin jy eers die inwoners ken, raak jy hopeloos verlief op hierdie beeldskone plek en sy mense. Hier wil jy ’n mooi plek maak, kreatief raak, kook dat die stoom draai en ure op die strand deurbring (sien bl. 28).

Hierdie WOON is nie net vir mooi lyk nie. Elke bladsy is noukeurig bedink sodat daar vir elke smaak en beursie ’n wenk, idee of inspirasie is. Dit was ’n groot plesier en voorreg om hierdie boek bymekaar te sit – dis vir jóú; geniet dit!

Anita en Lounette

Hou van blouRegruk met wat jy hetPaternoster-huiseStylvolle badkamersPaternoster-huise

Selfmaak-kaartjiesPaternoster badkamer