Kuier jy op die plaas Johannesdal aan die voet van Simonsberg, is dit soos om in ’n sprokie in te stap. Die vertrekke is ruim; die dekor interessant. En dan is daar saam met die blou berge ’n rivier en ’n populierbos ...

SARIE se dekor-redakteurs Anita Rossouw en Lounette Fourie het by dié plaashuis gaan kuier vir SARIE se Junie 2015-uitgawe. Blaai deur die galery vir foto's van dié spoghuis én maklike wenke vir om jóú huis hierdie voorkoms te gee.

Alle foto's: Henk Hattingh

Die plaas Johannesdal behoort aan Chris Willemse en Dane´ Erwee. Albei is talentvolle mense wat min bekendstelling nodig het as die eienaars van Okasie* – befaamd vir hul mooi blomme vir troues en korporatiewe onthale. Die twee het eers op Stellenbosch self gewoon, maar vanwee¨ hul passie vir blomme, plante en die aarde het hulle ses jaar gelede die´ plaas buite die dorp aan die voet van Simonsberg gekoop.

Die argitek Henri Comrie het die huis ontwerp en Chris se^ sy eerste reaksie was dat dit te modern is. Vir hulle was die uitdaging om die interieur pure plaas te laat lyk – iets wat hulle perfek reggekry het.

Die hemelhoe¨ plafonne van die huis met sy yslike staalraamvensters laat

lig instroom en gee ’n onbeperkte uitsig op die lieflike omgewing. Die sak-afgewerkte (bagged) mure is wit gekalk, die vloere is van sandsteen en die plafonne rou beton. Die tuin is ’n kombinasie van ’n ongetemde landskap en ’n formele tuin met ’n swembad, wat soomloos met die tuin ineenvloei.

*Okasie 021 887 9904, www.okasie.co.za