Ons inspirasie:

  • Blomvorms
  • Gekleurde glas
  • Kombinasie van strepe, blomme en geometriese patrone

Kom sit sag (hooffoto bo)

Maak ’n slim plan vir ekstra sit- of lêplek in jou TV-kamer. Gooi ’n enkelbed toe met ’n mooi stuk lap. Ons het die gestreepte lap by ’n fabriekswinkel (Fabric House) gekoop. Blou-en-wit kussing heel regs (Heirloom Mariner, R360 p.m.), geblomde een naasregs voor (St Thomas Pearl, R580 p.m.), blouen- groen kussing naaslinks agter (Simone Spa, R560 p.m.) en kussing met blou strepe (Istanbul Sunset, R950 p.m.) uit die Iman-reeks van Hertex Fabrics. Geborduurde kussings (R225 elk), Woolworths. Muurligte (R320 elk) te koop by SARIE se aanlynwinkel op sarie.com Blik-tafel (R775), wit glasvase (R495, R125, R95) en bêrebokse wat soos boeke lyk (R245, R175, R95), Loft Living. 1,5 m-laaghoutbankie (R1 050) van Skandinawiese berkehout, wat ook as koffietafel gebruik kan word, van Pedersen & Lennard. Gestreepte bekertjie (R100) en mat (R680), Moroccan Warehouse. Bord (R17,99), Mr Price Home.

Trek notaboekies oor met lap Boekwurm
As jou resepteboeke (of aantekeningboeke) begin verslete lyk, trek dit oor met stewige materiaal. Ons het sislap gebruik. Werk net soos wanneer jy ’n boek met papier oortrek, maar gebruik ’n gomstiffie en smeer die hele voor-, agterblad en rugkant van die boek en vee lugblasies uit. Plak materiaal wat na binne vou ook met gom vas. Tafellampie (R350) van Space for Life. Skildery (R1 200) deur Elmarie Vermeulen by Lemon & Lilac.

Oorskietpapier word koevert

Oorskietpapier

Van oorskiet-muurpapier kan jy só ’n nuttige koevert maak vir jou dokumente. Vou die papier in derdes, effens groter as ’n A4-vel en knip die boonste derde in ’n koevert-flap. Plak die sye toe met gom, of werk toe met hekelgare. Maak kleiner koeverte uit plakboekpapier vir geskenksakkies.

Plakpapier

Bont papier
Plakpapier kan van ’n vaal muur ’n vrolike fokuspunt maak. Plakpaper in Orissa Spice W0023/04 uit Showstoppersreeks (R1 600 per 5 m-rol), Hertex Fabrics. Skandinawiese ontwerperstoel (prys op aanvraag), Space for Life. Eetkamertafel (R4 400) en bypassende bankie (R1 050), Pedersen & Lennard. Vloerlamp-basis (R783) en lampskerm (R306), Fundi Light & Living. Blomme en vaas van Petals

Ombre-tafeldoek

Van donker na lig
’n Nuwe neiging is materiaal wat van donker na lig geskakeer word. Dit word ombre genoem. Die tegniek is heel maklik. Gebruik ’n sagte, kaasdoektipe wit katoen en materiaal-kleurstof. Sny die lap so groot soos jy dit wil hê en maak dit heeltemal nat. Neem ’n groot kastrol en maak die kleurstof saam met 2 eetlepels sout aan volgens die vervaardiger se aanwysings en verhit. Doop een punt van die materiaal in die kleurstof sodat dit die kleur opsuig.Trek ’n gedeelte uit die kleurstof vir ’n ligter skakering en laat rus vir ’n paar minute.Trek punt uit en spoel gekleurde deel uit in koue lopende water. Doen dieselfde met ander punt. Hang oor 2 wasgoedlyne sodat wit deel nie verkleur nie.

Groepeer gekleurde bottels vir ’n groter impak Blou waterglas (R45), Woolworths, en blou bottel links daarvan (R39,99), Mr Price Home. Ander gekleurde glaspotte (vanaf R195 – R675), Loft Living. Bankie (R1 050) en 1,8 m-tafel (R4 400), Pedersen & Lennard.

Gehekelde blommetjies in jou venster

Blomtuin in die venster
Hekel sulke blommetjies en versier jou vensters, kussings of selfs ’n geskenkpakkie daarmee.

Benodigdhede Elle Crochet nr. 5; 2,5 mm-hekelpen.

Hekel só Hekel 6 kettingsteke (ks) en las met ’n glipsteek om ring te vorm. 1e rondte Hekel 24 langbene (lb) rondom sirkel en las. 2e rondte Hekel nog ’n rondtelb. 3e rondte 2 ks (= 1e lb), (slaan 2 lb oor, 1 lb in 3e lb, 4 ks, 1 lb in dieselfde lb) herhaal 6 keer, slaan 2 lb oor en hekel 1 lb in 3e lb, 4 ks, las aan begin ks. 4e rondte (6 lb in 4 ks spasie, 1 kortbeen tussen 2 lb) herhaal 7 keer, las aan begin lb.