Die weer raak warmer en ’n kuier in die buitelug al hoe aanlokliker.

En soos Aleit Swanepoel, geleentheidsbeplanner en aanbieder van kykNET se Tyd met Aleit*, sê, is lente die een seisoen wat jy met ope arms kan omhels. 

"Veral as dit by partytjies kom! Lente voel altyd vir my asof dit hoop bring. Hoop op alle gebiede van die lewe. In die natuur, in jou eie tuin, vir jou werk, vir nuwe verhoudings."

Aleit Swanepoel is dol op lente. FOTO Facebook/ Tyd met Aleit

En wat is daai een ding wat elke huis vir ’n gesellige geleentheid moet hê? Atmosfeer.

"Selfs ’n eenvoudige snytjie brood kan soos manna uit die hemel proe as daar atmosfeer teenwoordig is. Individuele elemente is interafhanklik om die perfekte simfonie te lewer: kos, wyn, kerslig, blomme of soms net groen uit jou tuin en mooi musiek. Gaste wil net spesiaal voel. Wat is daai hoendervel-oomblikke? Jy as gasheer en gasvrou kan dit self skep."

En vir só ’n okkasie staan Aleit altyd gereed met 'n heerlike spyskaart.

"Ek sit graag ’n vars groenslaai vir voorgereg voor, net om daardie gaatjie te vul. En ook verskillende geregte wat in die middel van die tafel geplaas word. Vars lynvis en lamstjoppies kom vanaf oop vure, kleurryke groentes maak hul verskyning, asook ou tradisionele staatmakers soos my ma se pampoenkoekies. Nagereg kan vars en lig gehou word: meringue met room en bessies van alle geure en kleure."

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Aleit se slim onthaalwenke

- Pastelkleure is altyd ’n wenner. Dit skep ook ’n kalmte vir ander elemente wat dan tot ’n feestelikheid lei. Kleurryke kos en drankies bons al te lekker teen die skoon palet wat geskep word.  

- Moenie huiwer om blomme, kruie en blompatroon-servette in helder kleure op ’n wit tafeldoek te plaas nie.

- Onthou: Indien gaste nog langer wil kuier, veral ná middagete, maak seker dat daar ’n laatmiddag-happie is. Iets soos mini-hamburgers, dun pizzas of selfs net 'n soet dingetjie met koffie. Dieselfde geld vir aandetes.

- Weet presies wat jou gaste se gunsteling-kosse is en ook hul dieetvoorkeure. Maar moenie bang wees om uit die boks te dink nie. ’n Eenvoudige bestanddeel soos gemmer is dikwels die X-faktor in kos en drankies.  

- Lente is nie noodwendig sinoniem met sonskyn nie. Beplan dus jou kos en drankies volgens die weervoorspelling. 

- Om die tafelruikertjies ná die okkasie vir jou gaste te gee is ’n mooi gebaar. 


* Die derde seisoen van Tyd met Aleit begin vanaand om 18:00 op kykNET (kanaal 144).