SLIM SITPLEK (foto regs)
’n Knus ingeboude sitplek onder ’n smal venster is mooi en prakties. Dit bied ekstra pak- en sitplek.

BADBEDERF 

Ontspan in ’n bad met badsout wat jy self gemaak het. Ook lekker as ’n natuurlike skropmiddel vir jou vel.
Maak só
Meng growwe sout, vars suurlemoenskil en gedroogde laventel. Gooi dit in ’n mooi skulp en skep lepelsvol in jou stomende bad.

TAFEL-TABLO

Dek ’n tafel met oud en nuut, emalje en porselein op ’n linne-loper.
Maak loper só
Vir ’n interessante tafelloper of plekmatjie: stik ’n sierband om ’n stuk linne. Vou vir elke gas ’n oulike papierbootjie met sy naam op. As jy al vergeet het hoe - vra die kinders.

VADOEK-VENSTERS

Kombuisgordyne moet funksioneel én mooi wees. As jou vensters groter is as ’n vadoek, stik ’n paar aan mekaar vas vir die regte grootte.
Maak só
Kram velcro vas aan ’n houtraam. Stik die oorblywende velcro aan die vadoek vas. Werk ’n knopie op ’n steeltjie in die hoeke van die vadoek vas. Werk smal lintlussies aan die onderpunte vas. Vou na bo, en haak lussies oor die knope as jy die gordyne wil oophê. Aanplak-velcro is ook beskikbaar.

SPEEL-SPEEL

Rangskik beddens in ’n L-vorm vir die maksimum vloerspasie in ’n klein kamertjie. Die doelgemaakte bed het ingeboude laaie vir ekstra bêreplek (let op die slim versteekte handvatsels).
Maak vlaggies só
Knip uit oorskietlappies (of papier) ’n klomp gekleurde vlaggies, vou dit oor ’n toutjie en kram dit vas - ’n vrolike en goedkoop versiering.

SKOONSKIP

Ruim maklik op. Maak (of koop) kussings en stensil jou gesinslede se name op elkeen. Bêre dit in ’n mooi mandjie.
Maak só
Stensils is by skryfbehoefte- en stokperdjiewinkels te koop. Gebruik opaak-materiaalverf om die name te stensil. Fikseer die verf met hitte om dit wasbaar te maak. Werk ’n lint-lussie in die nate vas om die kussing lekker te kan dra.