RUSTIGE STYL (foto regs)
Rig ’n klein spieëltafel in boudoir-styl in net vir jou. Koop ’n halfmaan-tafeltjie en laat sny ’n spieël volgens die tafelblad. Knip ’n strook materiaal volgens die hoogte en 2 maal die halfsirkelmate + some. Stik some rondom in en vou of ryg plooie aan die bokant in. Kram dit aan die tafelrand vas. Plaas lint bo-oor en kap dit vas met stoffeer-klinknaels. Omring jou met die spesiale wintergeur van soetemalings in ’n klein glaspotjie.

KNUS WEELDE

Maak ’n luukse kopstuk van Hertex se Manor House, Metallica. Laat saag ’n stuk hout volgens jou bed se grootte en maak die hoeke rond. Vou ’n dubbellaag watteersel om die kopstuk en kram agter van die middel na buite vas. Doen dieselfde met die materiaal. Knip oortollige watteersel en lap weg.

NUWE LIG

Met stroke geskeurde lap, mooi lint en gom kan verwaarloosde lampskerms weer splinternuut lyk.
Silindervormige lampskerm

Knip materiaal volgens hoogte en omtrek van skerm en plak dit op die bestaande skerm vas met Pritt. Oorvleuel met1 cm op naat. Versier met ’n krale-fraiing en ’n lint.
Middel en agterste skerms
Draai die lampskerms toe met lint of geskeurde stroke materiaal. Plak begin en eindpunte vas. Vou ’n smaller lint in platplooie en plak of werk dit aan die onderrand vas.
Lampskerm regs
Skeur en plak ’n strook materiaal aan bo- en onderrand.

SALIGE KOESTERING

Maak vir jou ’n gunsteling-hoekie in jou slaapkamer met ’n katoenfluweelstoel en wikkel jou toe onder ’n sagte kunspelskombers.

WARM WOL

Die eeue oue tegniek van vervilting is nou weer een van die nuutste giere. Brei en vervilt jou eie warm wolpantoffels. Stuur ’n self-geadresseerde koevert aan Saprotex, SARIE-Pantoffels, Posbus 1293, Oos-Londen 5200, vir die volledige patroon, insluitend die metode om te vervilt.
Brei van die nuutste breidraad ’n kombers van 100 x 150 cm soos volg: Koop 15 bolle Elle Rustica Ultra en heg 101 steke aan met penne van 6,5 mm. Brei in mossteek 1e ry: (1 regs, 1 aweregs tot end van ry. Volgende ry: Herhaal eerste ry). Heg af as werk 150 cm lank is.

SAGTE GEURE

Die subtiele geur van ’n enkele hiasint kan ’n hele slaapkamer vul, en ’n amarillis-lelie sal jou weke se plesier gee. Sit klippies in ’n mooi glaspot. Plaas die bol (of bolle) sodat dit stewig op die klippe rus en vul die pot met water - dit moet net-net aan die bol raak. Ná ’n paar dae sal die wortels begin uitloop en blare verskyn. By die amarillis verskyn eers die blom, dan die blare. Vul water gereeld aan. Dit lyk net so mooi as jy dit in lae klippies en grond, of net in grond in ’n glaspot plant.