Vier Paasfees buite by ’n tafel met ’n pragtige tafeldoek en dié oulike servetringe. 

Moeilikheidsgraad: maklik

Tyd: 2 uur

Jy benodig

(vir vier servetringe):

• haasoorpatroon hieronder

• wit linnemateriaal • bont materiaal • aanstryk-tussenvoering • kartonringe (3 cm lank en 4,5 cm in deursnee) • kleurlose gom

WENK: Vra by jou plaaslike materiaalwinkel vir ’n stuk van ’n kartonbuis waarom materiaal gedraai word. Merk en sny die ringe met ’n ystersaag uit die kartonbuis.

Só maak jy

1. Stryk tussenvoering aan die agterkant van ’n stuk wit materiaal van sowat 18 x 28 cm vas. Gebruik die patroon hieronder om agt oordele uit die wit materiaal te knip en vier binneoordele uit die bont materiaal. Knip ook vier stroke wit materiaal van 16 x 8 cm.

2. Speld twee wit oordele aan mekaar met die verkeerde kante teen mekaar. Stel jou masjien op ’n 1 mm-steeklengte en stik die twee dele aan mekaar vas, 3 mm van die rand af. Plak een van die bont binneore aan een kant van die oor vas.

3. Vou die ore in die helfte en sit die middel in die middel van een van die vier wit materiaalstroke, sodat die ore parallel met die lengte van die strook is. Stik die ore aan die strook vas soos aangedui word deur die vertikale stippellyne in die patroon.

4. Vou die strook oor die ore en stik die kort sye met ’n 1 cm-naat aan mekaar vas. Dop die strook na die regte kant om en trek dit oor een van die kartonringe. Plak een kant van die materiaal aan die binnekant van die ring vas – knip die materiaal op drie plekke wat ewe ver van mekaar is, sodat dit kan oorvleuel. Plak die tweede kant vas wanneer die eerste kant droog is.

5. Trek die twee ore na mekaar toe en werk met die hand twee of drie steke deur die rande van die ore by die punte wat met die kolletjies in die patroon aangedui is.

6. Maak die ander servetringe net so.

Paasore patroon

Vir die patroon se pdf klik hier.

* Dié artikel het oorspronklik in Idees, April 2016, verskyn.