Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Dié week wys sy hoe om fotorame uit ou dagboeke te maak.

’n Fotoraam uit ’n dagboek

Ek kan nie glo die jaar is al weer op sy kop nie! Een van die dae koop ons dagboeke vir 2015! Ek kry altyd heimwee wanneer ek een dagboek moet verruil vir ’n ander een, vir ’n nuwe jaar. Ek wens daar was ’n manier om nie my vorige lewensjaar se inligting weg te gooi nie (ja, ek weet slimfone vervang alles, maar ek is nog vir seker ’n neerskryf-en-kyk-boek-vrou!)

So voordat ons begin met die Kersgeskenke, kom ons bewaar ons notas vir 2014 en omskep ons ou dagboeke in pragtige fotorame vir die studeerkamer.

Dagboek Jani DIYJy benodig

  • Ou hardeband-dagboeke of -jaarbeplanners
  • Mooi lap
  • Modge Podge of Dala se Acrylic Gel Medium
  • Verfkwas
  • Skêr
  • Karton
  • Supergom
  • Verbeelding!

Stap 1: Beplan

Kry ’n paar stukkies lap wat bymekaar en by jou huis pas. Soek foto's waarvan jy baie hou, óf druk vir jou mooi woorde uit om in die raam te sit – ek hou van ’n kombinasie van die twee. (Julle kan ook met liefde die woorde in hierdie voorbeelde op ons Facebook-blad aflaai om uit te druk).

Stap 2: Trek oor

Lê die lap op die tafel neer. Verf jou dagboek se buiteblaaie (voor en agter en op die rugkant) goed met Podge of Dala se Acrylic Gel Medium.

Dagboek Jani DIY

Plaas die dagboek bo-op die lap en trek die boek se buitekant oor met die lap soos wat jy ’n geskenk of skoolboek sal oortrek.

Laat staan die dagboek om droog te word.

Dagboek Jani DIY

Stap 3: Hoek-hakies

Gebruik karton waarvan jy hou – jy kan dit oortrek met lap of verf, of soos in die voorbeeld net so gebruik. Knip ’n strook van tussen 1 en 2 cm in wydte.

Vou die hoek-punt in die begin oor in die vorm van ’n driehoek. Vou die res van die strook oor in ’n spieëlbeeld-driehoek (soos in die voorbeeld) en knip die res van die strook af. Dit is jou eerste hoek-hakie. Vou nog drie sulkes. (Maak 4 vir elke dagboek-raam wat jy gaan maak.)

Dagboek Jani DIY

Stap 4: Meet en plak

Plaas jou prente of foto's op die oorgetrekte boeke en trek die vier hoeke af met ’n potlood vir aanwysers waar om die hoek-hakies te plak.

Dagboek Jani DIYPlak die agterkant van die hakies met supergom (of enige kleurlose gom) aan die oorgetrekte boek vas.

Dagboek Jani DIY

Druk die hoekies mooi vas (wees versigtig om nie gom aan jou vingers te kry nie!) en laat die gom droog word – dit neem gewoonlik net ’n paar minute.

Dagboek Jani DIYStap 5: Klaar - uitstaltyd!

Wanneer die gom droog is, skuif die foto's se hoeke in die hakies in.

Dagboek Jani DIY

Dagboek Jani DIYEn SIEDAAR! Jy het in ’n japtrap ’n pragtige staan-raam uit jou ou dagboek gemaak. Ek dink die bladsye wat aan die kante sigbaar is, is baie spesiale detail!

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs - klik HIER