Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag wys sy nóg ’n manier om ou kashandvatsels nuwe lewe te gee.

Verfraai ou kashandvatsels - nóg maniere

My greinhout-laaikas het gelukkig meer as die 4 knoppe wat ek verlede week versier het! Want ek is heeltemal mal oor al die idees wat in my kop begin maal het ná verlede week se blog. Vandag gaan ek net twee van daardie planne met julle deel.

Maar intussen wil ek graag sien wat julle aanvang! Stuur vir my foto' s van jul projekte na verbeelding@paintdecordiy.co.za of deel dit op ons Facebook-blad.

Vandag gaan ons met découpage speel, sowel as een van my gunsteling-eienskappe van Annie Sloan Chalk Paint™ toets.

Jy benodig

  • Handvatsels wat ’n face-lift nodig het
  • Annie Sloan CHALK PAINT™
  • Modge Podge
  • Skêr
  • ’n Ou boek
  • Mooi papierservet
  • 100-grint-skuurpapier
  • Annie Sloan Clear Soft Wax en die Dark Wax
  • Kaasdoek (mutton cloth) en ’n paar kwassies

STAP 1: Verf die deurknoppe met ’n dik laag verf

Vir die eerste twee knoppe gaan ek ’n tegniek wys wat dit die voorkoms van ’n gekerfde patroon sal gee. Om dit te doen het jy taamlike dik* Chalk Paint™ nodig.

* Om die verf te verdik kan jy sommer die houer se deksel oornag afhaal, of jy kan ’n bietjie verf in ’n bakkie gooi en dit laat oopstaan. Soos wat die verf oksideer, raak dit dikker – byna soos klei. Dit is ’n heerlike medium om mee te werk omdat die verf enige tekstuur wat jy daarin of daarop aanbring, sal behou.

1c verf dik

Ek gebruik: Scandinavian Pink (dit is ’n vintage-pienk) en Chateau Grey (dis ’n baie mooi ligte olyfgroen).

STAP 2: Trek “kerf”-merke in die dik, nat verf

Soos genoem in Stap 1, sal die verf enige tekstuur wat jy aanbring, behou. Ek gaan letters inteken (sommer met die agterkant van my dun verfkwas).

Dit is ook ’n lekker idee vir ’n kinderkamer om jou kind se naam uit te spel - in enige kleur wat jy verkies.

Wanneer jy klaar die letter ingeteken het, moet jy dit eenkant sit om GOED droog te word.

STAP 3: Basislaag en podge

Vir ons ander voorbeeld vandag gaan ons speel met découpage – ek gebruik Dala se Podge vir die projek. Julle weet seker al dat ek baie van woorde en letters hou, daarom wil ek die tweede stel knoppe découpage met verskillende woorde.

Eers verf ek ’n basislaag Chalk Paint™ Old White, want ek wil graag hê dit moet saamsmelt met die papier wat ek vir die decoupage gaan gebruik.

3 a

Skeur stukkies papier uit ’n ou boek, verf ’n laag Podge op die deurknop, plaas ’n stukkie papier daarop en vee weer met jou kwas ’n laag Podge bo-oor die papierstukkies sodat dit mooi plat teen die knop lê. Gaan so voort tot jou hele knop met papier bedek is – of los ’n stukkie skoon soos in my voorbeeld. Ek hou van bietjie verf-detail ook.

Vir die servet doen jy presies dieselfde – wees net bewus dat die servet deursigtig raak wanneer jy die Podge daaroor verf en jy kan so baie interessante dimensies skep met laag op laag. Die servet is baie sagter en dunner as papier – verf die Podge versigtig bo-oor sodat die servet nie skeur nie.

STAP 4: Tweede laag verf

Wanneer jou dikgeverfde knoppe met die “kerf-werk” droog is, verf ’n soliede laag van ’n ander kleur bo-oor die hele knop en veral solied bo-oor die groewe wat jy getrek het in die verf.

Laat alles mooi droog word.

STAP 5: Skuur

Ons gaan nou die “kerf-werk” laat uitkom op die knoppe wat ons solied geverf het. Ek gebruik ’n 100-grint-skuurpapier, maar werk maar versigtig, die knoppie is redelik klein. Skuur met die skuurpapier oral oor die patroon of letters wat jy getrek het in die verf. Die skuurpapier sal die verf van die tweede laag laat afkom maar hierdie tweede kleur sal agterbly in die groewe wat jy in die verf getrek het. Dit laat dit lyk of die letters of patroon regtig in die hout self gekerf was en toe geverf is! Is Chalk Paint™ nie fantasties nie?!

Hier is ook ’n paar ander voorbeelde van hierdie “kerf”-tegniek wat ons al gedoen het in ons werkswinkels.

5 f ekstra 5 g ekstra 5 h ekstra 5 i ekstra

STAP 6: Waks

Al die verf en Podge-werk is nou klaar! Nou moet ons net die laaste stap voltooi deur ons knoppe te waks.

Die waks is die lagie wat die Chalk Paint™ seël en ook ’n baie mooi outentieke voorkoms kan gee as jy die Dark Soft Wax gebruik.

Om te waks gebruik jy ’n kaasdoek of ou wit T-hemp. Vee sorgvuldig ’n bietjie Clear Soft Wax aan die geverfde deurknoppe totdat die voorkoms egalig lyk – die waks bring die kleur mooi uit en laat die skakerings ook dieper vertoon.

Ek waks ook die steeltjie van die een knop wat ek ge-découpage het – die Old White wat daar oopgelos is (sonder découpage) gaan pragtig lyk met ’n tikke Dark Wax om die Old White-kleur by die res van die knop se outentieke gevoel te laat pas. Smeer net ’n klein bietjie Dark Wax aan nadat jy die knoppie geseël het met Clear Wax. Die Dark Wax verleen ’n pragtige sepia-kleur aan die wit.

En siedaar! 

Jy kan nou regtig pronk met ’n paar pragtige handverfraaide knoppe – gebruik jou verbeelding en deel jóú projek met my verbeelding@paintdecordiy.co.za of deel dit op ons Facebook-blad. klaar 1 klaar 2 klaar 3

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs