Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag pak sy ’n groterige taak aan -  sy gee ’n gewone gestoffeerde bank nuwe woema met verf.

Verander jou gestoffeerde bank in ’n gesofistikeerde bank

’n Vriendin van my het onlangs verhuis en nie plek vir haar ou bank in haar nuwe plekkie gehad nie. Ek het dadelik die geleentheid aangegryp om dié bank na die Verbeelding-ateljee te vat en te eksperimenteer. Met ’n bietjie verbeelding en toorkrag van Chalk Paint™ kon ek dié gestoffeerde bank pragtig versier. En dis heel maklik! Van die blik direk op die kussings.

Jani DIY bank klaar 1

Jy het nodig

  • ’n Gestoffeerde bank of stoel
  • Annie Sloan Chalk Paint™ van jou keuse (ook beskikbaar by Paint & Décor)
  • Verfkwaste (Annie Sloan se nr. 12-kwas werk uitstekend met sy rondings en groot oppervlak – maar enige goeie kwas kan ook werk. Hou ’n klein kunskwassie byderhand vir insnywerk en fyn detail)
  • Annie Sloan Soft Clear Wax
  • Kaasdoek (mutton cloth)
  • 360-grint-skuurpapier

Jani DIY bank 1a beplan

Stap 1: Beplan

Dit voel altyd of dit tydmors is, maar dis so belangrik om jou idees te skets voordat jy begin. Tydens dié stap kan jy probleme uitskakel, soos ’n patroon wat nie mooi balanseer nie, en jy kan ook bietjie rondspeel.

Ek skets gewoonlik ’n paar opsies  – en toe teken ek dié idee met bordkryt direk op die bank om vir seker te weet dat dít is wat ek wil doen.

Stap 2: Maak jou lap nat

Wanneer jy tevrede is met jou ontwerp, maak die lap goed nat en vee oor die bank. Die verf trek makliker in as die bank taamlik nat is (nie deurdrenk nie).

WENK

Wanneer jy ’n groterige projek soos dié aanpak, doen dit stap vir stap. Maak byvoorbeeld net een kussing op ’n slag nat en verf direk daarna daardie kussing. Wanneer jy die kussing klaar geverf het, maak jy die volgende kussing weer nat en verf dit eers klaar voordat jy aanbeweeg.

Stap 3: Verf

Wanneer jy die verf op die materiaal aanwend, druk sommer jou kwas ook ’n bietjie in die water - jy wil hê die verf moet maklik op die materiaal versprei.

Wanneer jy by die rand  van die armleunings kom, gebruik die kleiner kwassie vir insnywerk. Probeer keer dat die verf in die nate saampak.

4. Verf voort

Ná jou eerste laag oor die hele bank of stoel, sal jy sien of dit nodig is vir ’n tweede of selfs ’n derde laag. Ek het kleure gekies wat taamlik na aan die bank se oorspronklike kleur is om die bedekking makliker te maak en besluit om met helder kleure bietjie vrolikheid in te bring.

Ek was wel lekker verras om te sien dat die Graphite (swart) en die Emperor’s Silk (rooi) van Annie Sloan die vaal blou van die bank baie maklik bedek het, en net een laag was nodig.

Geniet dit! Verf ’n paar blomme, skryf iets, doen ’n stensil-motief … dis jóú projek en jy kan dit altyd weer toeverf en van voor af begin.

Jani DIY bank 4d Jani DIY bank 4f

5. Skuurpapier

Wanneer jy klaar geverf is en alles is mooi droog, sal jy voel die bank se materiaal is taamlik hard van die verf. Om die tekstuur sagter te maak en die kleur ook meer egalig te kry, het ek met 360-grint-skuurpapier saggies oor die hele oppervlak van die bank geskuur.

Jani DIY bank 5c

Jy sal nie glo hoe sag dit die verf op die matriaal maak nie – dit voel (en lyk) soos suède!

6. Vee weer

Vee nou liggies met ’n klam lap oor die hele bank om van al die verfstof ontslae te raak. Dit help ook om die verf te laat "vat" op die lap.

7. Waks

Nadat die bank saggies geskuur en afgevee is, laat dit toe om heeltemal droog te word. Ek het die swart (Graphite) en rooi (Emperor’s Silk) gedeeltes sowel as die rose met die Annie Sloan Soft Clear Wax geseël.

Jani DIY bank 7a

Dié waks seël die verf mooi en gee ook die geverfde lap ’n effense blink tekstuur wat ek nie oor die hele bank wil hê nie – dit maak wel die swart en rooi mooi helder.

Ons gaan die bank dié naweek inlyf met kuier en koffie!

Jani DIY bank klaar 4 Jani DIY bank klaar 1

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs