Kersfees

A
KERSKRANS

Benodighede
Snoeitakkies om ’n krans te draai; loof; silwer sterre; lint; bloemistedraad

Maak só
• Draai stewige wingerd- of enige snoeitakkies in ’n netjiese sirkel, en draai dit met groen bloemistedraad vas vir ’n kransbasis.
• Kies loof wat mooi droog sal word, soos die blompunte van ons pragtige inheemse fynbossoorte. Maak bondeltjies van die loof en draai dit aan die kransbasis vas, sodat elke bondeltjie die vorige een se stingels toemaak.
• Versier verder met silwer sterre en klein, flonkerende Kersballetjies.
• Hang op aan ’n mooi lint.  

B
GESKENKSAK
Stik ’n materiaalslopie vir ’n spesiale bottel wyn of sjokolade.

Benodighede
Reslappies interessante; materiaal; tosseltjie; Chinese knopie; mooi koord; koperhaakspeld

Maak só
• Gebruik ’n stukkie luukse lap soos suiwer sy en opwindende vondste soos ’n tossel of ’n Chinese knopie uit Ouma se knopeblik.
• Stik die slopie effens langer as die wynbottel.
• Glip die bottel in die slopie en draai ’n dun koord om die nek waaraan die tossel hang.
• Die slopie kan later weer as ’n sakkie vir skoene in jou reistas gebruik word.
• Knip ’n groterige vierkant (wat later vir iets soos ’n kussing gebruik kan word) en vou ’n boksie sjokolade daarin toe.
• Steek die bokant met ’n koperhaakspeld toe en werk die Chinese knopie met ’n paar groot rygsteke oor die speld vas.
• Jy kan in jou Kerskaartjie instruksies gee oor hoe om die kussing te maak.
• Jy kan ook ’n kleiner koevertsakkie stik vir iets soos ’n sakboekie of ’n mooi pen.

C
KERSBOME

Benodighede
Oase-keël (te kry by ’n bloemiste); vars bloekomtakke; kort speldjies (te kry by  stokperdjiewinkels); klein kraletjies; klein Kersballe

Maak só
• Druk die oase-keël in ’n mooi pot.
• Knip vars bloemkomtakke se blare gelyk en begin van onder af die blare in sirkels om die keël vassteek.
• Ryg eers ’n klein turkoois kraletjie aan die kort speldjie en steek dit dan in die middel van die blaar vas.
• Druk die volgende ry blare agter die voriges in en gaan so voort totdat die hele keël bedek is.
• Werk die onderkant van die keël af met ’n paar takkies blare, wat jy ook vassteek.
• Versier verder met helder Kersballetjies.
• Ons het klein polistireenballetjies vol blinkers (sequins) en krale gebruik.
• Hierdie blare word baie mooi droog.