SELFGEMAAKTE KANDELAAR (foto regs)
Kandelare skep ’n besondere atmosfeer. Raak ’n bietjie kreatief en maak self een. ’n Lampskerm waarvan die glasskerm gebreek was en slegs die ring aan die kaal gloeilamp bly hang het, was die inspirasie vir dié nuwe, kreatiewe kandelaar. Net ’n paar geslypte glaskrale en kunsblomme is gebruik.
Benodigdhede
Die ring van ’n lampskerm; kunsblomme; stringe glaskrale en druppels; krale-vislyn.
Maak só
Ryg sowat 6 ewe lang stringe krale in en bind saam aan die onderkant vas met ’n groot kristaldruppel. Bind die bopunte op eweredige afstande vas aan die lampskermring (sommige ringe het gaatjies in wat gebruik kan word). Maak ook ’n paar kort stringe met druppels aan die punte en bind vas aan die kraalstringe. Draai die stele ’n paar keer om die ring om ’n digte krans te vorm.

SLEUTELKLOSSIE


Gee aandag aan fyn detail soos dié sleutelklossie met ’n kristalkraletjie en rond jou blyplek stylvol af. Dis ook ’n oulike geskenk om self te maak.
Benodigdhede
’n Verskeidenheid geslypte glaskrale (en ’n groot druppel vir die onderkant); chiffonlint; sleutelring.
Maak só 
Knip punte van lint skuins om ’n lang, skerp punt te vorm. Gebruik ’n kralenaald met ’n lang oog en ryg dubbele lint daardeur. Ryg nou die lint met die naald deur die krale, tot so lank jy die klossie wil hê. Trek die naald uit en bind die sleutelring vas. Bind ook ’n kraletjie aan elke punt van die lint.

KRISTAL OP JOU TAFEL


Min items op ’n tafel imponeer soos kristal. Die vonkel reflekteer lewe, oordaad en vreugde. Haal al jou kristal- en geslypte glasblompotjies uit as jy weer tafel dek. Steek in elk ’n enkele blom of varingblaar sodat die skoonheid van geslypte kristal tot sy volle reg kan kom.

KRALE-FRAIING


’n Krale-fraiing rond ’n stoel op ’n interessante manier af.

SWIERIGE SPELD


Swarovski gebruik gevorderde tegnologie met ouwêreldse ervaring om pragtige kristal te maak wat lig op ’n superieure manier weerkaats. Maak so ’n speldjie van egte Swarovski-kristalle vir jou baadjie-lapel of gebruik dit op ’n kussing.
Benodigdhede
Haakspeld met 5 of 7 metaal-ogies aan die onderkant; verskeidenheid Swarovski-kristalle in verskillende groottes en kleure van jou keuse; verskeidenheid kraalkappies (bead caps), skeiringetjies (spacers), fyn kettinkies en gelukbringers (charms), metaalringetjies en metaalstafie met stopper aan onderkant; kraletangetjie.
Maak so
Maak ’n krale-klossie met die genoemde komponente en haak dit aan die metaal-ogies met ’n metaalringetjie. Buig dit netjies en stewig toe.

KRISTAL OP JOU LAAIKAS


Hout en kristal sorg vir stylvolle elegansie. Om die ou eikehoutlaaikas ’n splinternuwe voorkoms te gee, verf die kas met ’n dun lagie wit verf en rond af met nuwe geslypte glasknoppies.
Benodighede
Eikehout-laaikas; wit PVA-verf; ’n mat, kleurlose vernis; geslypte glasknoppies.
Maak só  
Verwyder ou knoppe en skuur die ou vernis glad en skoon af. Meng ’n bietjie verf (sowat ’n derde) en water (twee derdes) in ’n blikkie en toets verf aan die agterkant van die kassie. Die grein van die hout moet nog sigbaar wees. Verf die oppervlak egalig en laat droog word. Verf nog ’n laag indien nodig. Seël dit met ’n lagie vernis. Draai nuwe knoppies vas.

KRISTALLE EN LINTE


Enkele kristalkrale wat met besondere lint ingeryg is, is al wat jy nodig het om nuwe lewe aan ’n hoekie te gee. Want dit is wat kristal regkry - dit laat lig lewe. Knoop die kristalle vas of knip die lint vas met ’n kraleknippie.