’n Liefde vir linne
Moenie dit in ’n kas laat lê nie. Stal dit uit – in die eetkamer, sitkamer, slaapkamer of gang
vir ’n gevoel van luuksheid en weelde. Met net ’n paar meter linne kan jy ver kom …

A
STOELOORTREKSEL

Benodigdhede
Materiaal volgens rugleuning-mate (ons het Home Fabrics se Linen-reeks gebruik); fyn kwas; Silk Art-syverf.

Maak só
•    Meet die breedte en hoogte van die stoel en knip ’n lang strook volgens die mate.
•    Stik rourande om en stik bindbande 15 cm vanaf bokant en onderkant vas. Merk die middel met ’n ligte potloodmerkie.
•    Vergroot die ontwerp op ’n fotostaatmasjien tot ’n hoogte van 12 cm en trek die ontwerp liggies na met ’n potlood.
•    Verf die ontwerp na met die syverf. Onthou, syverf vloei baie – gebruik dus min verf op die kwas en werk met baie ligte, fyn kwashale.
•    As jy ander materiaal as bogenoemde gebruik, toets dit eers op ’n klein stukkie lap.
•    As dit te veel vloei, gebruik kleurlose syverfomlyner om die ontwerp na te trek voordat jy verf.

B
MESSEGOEDSAK

Benodigdhede
Twee teenstellende kleure linne van ongeveer 80 cm x 60 cm; borduurgare; verdwynink-pen.

Maak só
•    Knip albei stukke linne tot ’n grootte van 57 cm x 72 cm. Plaas opmekaar en stik rondom toe, maar laat ’n opening en keer om. Werk opening toe.
•    Vou die een lang kant sowat 20 cm om en speld vas. Dit vorm die sakkies.
•    Stik die omgevoude deel in individuele sakkies 7,5 cm uit mekaar. Skryf die woord “messegoed” – ons het die lettertipe Blackadder ITC op ’n rekenaar gebruik.
•    Plaas die materiaal teen die venster en trek die letters na. Borduur dit in agtersteek.

C
SERVET

Benodigdhede
55 cm x 55 cm fyn linne of katoen per servet (ons het Home Fabrics se Linenreeks, kleur: Duck Egg, gebruik); wit, ondeursigtige materiaalverf; stuk asetaat; kunsmes; sponsie;
wit katoengare; maskeerband.

Maak só
•    Knip die servet sowat 52 cm x 52 cm en stik ’n smal, dubbelgevoude soom rondom.
•    Trek die krulpatroon na en sny dit versigtig uit.
•    Vergroot die ontwerp na smaak op ’n fotostaatmasjien.
•    Plak die stensil in die een hoek en stip die verf baie liggies met die spons aan.
•    Laat droog word en fi kseer die verf met ’n warm strykyster.
•    Werk klein rygstekies om die ontwerp.