TAFELTUIN (foto regs)
Lente op ’n bord - versier glasborde met mooi roos-ontwerp-papierservette. Koop borde van Banks en trek die servet se lae versigtig van mekaar. Gebruik slegs die heel boonste vel. Verf die agterkant van jou bord met porselein-Podge (verseëlaar) van Silk Art en plaas die ragfyn vel versigtig daarop. Gebruik ’n baie sagte kwas of sponsroller om lugblasies uit te druk. Dit sal ’n paar fyn kreukels maak. Laat kurkdroog word en knip die oortollige papier af. Maak seker die rand is ook met Podge geseël. Bak in jou oond volgens die vervaardiger se aanwysings. Die borde moet met die hand gewas word.

RANKPLANT

Maak ’n reuse-skildery van ’n 1,8 m stuk materiaal wat jy oor ’n kunstenaarsdoek span en bo jou bank hang as fokuspunt in die vertrek. ’n Bankie word ’n koffietafel en pleks van ’n pot vol blomme, gebruik jou mooiste roos-breekgoed om enkele rose in te rangskik.

MUURBLOMME

Die meeste raamwinkels verkoop rame wat van afvalstroke gemaak word. Hier loop jy die mooiste rame raak. Kyk ook by plekke soos Clicks, Pick ’n Pay, Ackermans en ander groot afdelingswinkels vir bekostigbare rame. Gebruik afvallap en plak dit op stewige karton vas voor jy dit in die rame plaas. Breek weg van net ’n bos rose in ’n pot. Gebruik ’n interessante houer soos ’n ou opskepskottel en kombineer rose met takkies, woestynrose en vetplante uit jou tuin.

SONSKYNHOEKIE

Ontspan in ’n roosmooi sonhoekie met ’n koppie tee.

KROONBLARE

Maak jou badkamer ’n lushof van geure en kleure. Plaas roosseep in ’n groot, gesnyde glasbak wat lig weerkaats. Breek blaar vir blaar af soos jy die seep benodig. Versier verder met ragfyn, wit porseleinrose en roosvormige kerse.

ROOSKNOPPE

Gebruik ’n plat raam (by découpage-winkels te koop of maak jou eie uit afvalhout) en verf dit ’n agtergrondkleur van jou keuse. Ons het Heritage Craft Acrylic hiervoor gebruik. Koop geskenkpapier met roos-ontwerpe en knip dit versigtig uit. Plak dit met découpage-Podge op die raam vas. Laat droog word en verseël met sowat 5 lae Podge. Laat kurkdroog word tussen lae. Skroef mooi glas- of porseleinknoppies aan die onderkant vas en hang mooi goed daaraan op.