BLOMKRANS (foto regs)
’n Bloedrooi blomkrans vir jou Valentyn of sommer vir die mooi. Dit ís mos die kleur van die liefde.
Benodigdhede
’n Stewige draad; paar krale; angeliere of rose; tang; dun bloemistedraad.
Maak so
Buig die draad in ’n hartvorm of enige ander vorm waarvan jy hou. Knip een punt skuins af om ’n skerp punt te vorm. Knip die blomsteeltjies af en druk die skerp punt deur die agterste groen deel van die angeliere (dikste deel van roosknoppe as jy rose gebruik). Ryg die blomme styf teen mekaar in. Knip die bloemistedraad tot ’n lengte van sowat 12 cm. Buig die een punt van die bloemistedraad in ’n klein krulletjie sodat die krale nie kan verbyglip nie. Ryg ’n paar krale aan die draad, knip effens langer as kralestring af. Buig boonste punt in ’n lus en haak aan die onderkant van die krans. Buig lus toe.

LAMPSKERM MET LINT

Oulap se rooi maak mooi. ’n Linnekleur lampskerm is versier met ’n bloedrooi lint, wat in ’n plat strik gevou is. As jy moeg is hiervoor, kan jy die lint net losknip.
Benodigdhede
Silindervormige lampskerm; rooi fluweellint, lank genoeg om om die lampskerm te pas, plus 30 cm ekstra; Pritt-gomstiffie.
Maak so
Vou die lint dubbel, meet 10 cm vanaf die voulyn en stik die lint vas sodat dit ’n lus van 20 cm maak. Vou die lus oop en plat. Knip ’n klein stukkie lint af en vou dit oor die middel van die strik (stiklyn) om die plat strik te voltooi. Werk dit aan die agterkant vas of gom dit vas. Vou die lint om die lampskerm - sowat twee derdes van bo af - en plak dit op die laslyn vas.

GEURSAKKIE

Hoe klink ’n lang en sensuele bad in water wat oor vars blomme of kruie spoel? So ’n sakkie-bederf kan jy vir jouself maak en ook as geskenke weggee.
Benodigdhede
Reslappies deursigtige materiaal; vars roosknoppe of kruie; kraletjies.
Maak so
Knip ’n hartvorm uit vier lae materiaal. Plaas twee van die lae opmekaar en maak ’n groterige knoopsgat in die middel van die hart. Plaas die oorblywende twee lae bo-op en werk die hart met ’n kraletjie en rygstekies rondom toe. Werk aan die bokant ’n kralelussie wat jy oor die kraan kan haak. Knip die knoopsgat oop en plaas vars roosknoppies of kruie daarin. Laat jou badwater hierdeur loop.

VERSIERDE HANDDOEKE

Sierband op kussings, lampe en gordyne is groot nuus. Handdoeke afgerond met ’n sierband sorg vir ’n spatsel rooi vrolikheid in die badkamer.
Benodigdhede
Sierband of mooi lint; wit handdoeke. Jy sal sowat 70 cm sierband of lint vir ’n badhanddoek benodig en sowat 50 cm vir ’n gesighanddoek, maar meet eers die handdoeke voor jy koop.
Maak so
Stik die sierband sowat 12 cm vanaf die onderrand van die handdoeke vas. Sorg dat die sierband vooraf gekrimp is voordat jy dit vasstik.

FLUWEELBOKSIE

Sit jou Valentynsgeskenk in ’n rooi boksie op ’n koekstaander met rose.
Benodigdhede
Aartappelskyfie-boksie met plastiekdeksel; reslappies fluweel; klein stukkie fluweellint, dieselfde kleur as materiaal; stukkie dun karton; Pritt-gomstiffie; vel handgemaakte papier;
vanieljegeursel; spuitbottel.
Maak so
Trek die bo-rand van die deksel na. Knip dit 7 mm groter uit en maak klein inknippies. Smeer deksel en rand met gom en plak die materiaal daarop vas. Druk materiaal om rand goed vas.
Knip ’n strook karton lank genoeg om om die rand van die deksel te vou - sowat 1,5 cm breed. Plak die lint op die stukkie karton, maar laat dit aan die een kant 1,5 cm verbysteek. Knip ’n strook materiaal wat 2 cm groter en langer is as die lengte en omtrek van die silinder. Smeer die silinder gom en plak dit net onder die boonste blink randjie vas. Smeer die bodem gom en vou die materiaal wat uitsteek weg op die bodem. Knip ’n sirkel effens kleiner as die bodem uit die handgemaakte papier en plak dit netjies op die bodem vas. Knip ’n strook papier wat net groot genoeg is om die binnekant van die boksie te bedek. Voeg ’n paar druppels vanieljegeursel met skoon water en plaas dit in ’n spuitbotteltjie. Spuit die strook papier liggies daarmee en laat droog word. Plak papier aan die binnekant van die boksie vas.