Omgewingsvriendelik kan ook interessant en modern wees.
Kyk wat kan jy alles doen met hout, raffia, tou en papier!

A
LAMP VAN TOU
’n Rol growwe tou maak ’n ongewone lampbasis.

Benodigdhede
Mooi rol tou (beskikbaar by Cape Twines 021 4474352 en Transvaal Twines 011 4748767); metaal-lamphouer; hol metaalpyp met ’n skroefdraad bo en onder; elektriese koord; skakelaar en kragprop (hierdie 5 items is by elektriese winkels te koop); deursigtige selfplak-plastiekblokkies – van die soort wat verhinder dat items rondskuif; kontakgom.

Maak só
• Die gaatjie van die rol tou sal waarskyn lik te groot wees. Ons het ’n stukkie besproei-
ings pyp eers deur die gat gedruk en toe die hol metaalpyp. As dit nog steeds te los pas, kan
jy weerskante van die pyp ’n sosatiestokkie vasgom.
• Plak ’n stukkie dun karton op die bodem van die rol tou vas en knip dit tot teen die rand af. • Maak ’n gat waar die metaalpyp is.
• Druk die elektriese draad deur die pyp en konnekteer dit aan die lamphouer. Vra ’n
elektrisiën om jou hiermee te help as jy nie vertroud is met elektriese bedrading nie.
• Plak 4 van die plastiekblokkies onderaan die karton vas – dit laat ook plek vir die elektriese
draad.
• Konnekteer die ligskakelaar en laastens die kragprop. Rond die lamp af met ’n papierskerm.

B
GEVORMDE GLISERIENSEEP
Geur en vorm jou eie gliserienseep.

Benodigdhede
’n Krulplaat (scroll tray) of ’n plastiekskink - bord van sowat 28 x 39 cm; 500 g ondeursigtige vanielje-gliserienseep; 500 g ondeursigtige roomkleurige vanielje-gliserienseep; 500 g deursigtige rooibosgliserienseep.

Maak só
• Die grootte van die skinkbord is belangrik, aangesien jou seep te min of te veel sal wees
as jy van die grootte afwyk.
• Sny die seep in stukkies en plaas elke kleur in ’n plastiekbeker. Smelt eers die donker seep in die mikrogolf vir omtrent 1 – 2 minute.
• Die seep moet net vloeibaar wees, moenie dit oorverhit nie.
• Gooi die seep vinnig in die middel van die skinkbord sodat die seep egalig versprei.
Smelt die ligte seep.
• Laat die eerste laag seep ’n bietjie stol. Dit moet nog sponserig voel.
• Wag totdat die ligte seep ’n dun lagie gevorm het, roer die seep en gooi dan oor die
eerste laag.
• As jou seep te warm is, sal dit die eerste laag smelt. Smelt die rooibosseep
en maak soos hierbo. Hou die seep dop tot die rooibos-laag ook sponserig voel.
• Begin van een kant af rol. Rol stadig, as die seep nog sag voel op plekke, wag ’n klein rukkie voordat jy verder rol. As jy te lank wag, sal jou seep breek.
• Sny in sirkels. As die rolseep te moeilik vir jou klink, kan jy dit in eenvoudige plastiekvorms soos bv. ’n kosblik giet.
• Roer hierby natuurlike geursels soos heuning, roosmaryn of rooibostee. Onthou om altyd
jou seep toe te draai in kleefplastiek totdat jy dit gebruik. Vir seep-benodigdhede, klasse en
inligting, bel Jo-Ann Bannister, 083 603 0196.

C
POTTE VAN PAPIER MÂCHÉ
Herbenut papier én blompotte.

Benodigdhede
Blompotte van verskillende groottes – die pot se bek moet wyer as die voetstuk wees, sodat die voltooide mâché maklik afgeglip kan word; kleefplastiek; Vaseline; plakpapiergom; enige ongedrukte papier.

Maak só
• Smeer ’n dun lagie Vaseline rondom die pot, asook om die bek en bodem, en trek dit oor
met kleefplastiek.
• Maak gom aan volgens die instruksies in ’n leë roomyshouer, maar verdun met ’n halwe koppie water.
• Skeur papier in repe en dan in kleiner stukke en week enkellae in gom.
• Skraap ekstra gom af aan rand van bak en plak ’n laag op die plastiek, met die papierrande wat oorvleuel.
• Laat heeltemal droog word voordat jy ’n
volgende laag plak.
• Plak minstens 8 lae.
• Maak plastiek om die pot se bek los en glip mâché af. Indien verkies, kan die pot geverf of
vernis word.
Wenk: Dis ook ’n slim manier om ’n gekraakte pot te herbenut. Doen dan die papier mâché
direk op die pot en sonder die Vaseline en plastiek.

D
HOUTSTOMP-KERSHOUER
Gebruik boomstompe wat spesiaal gekweek word vir afsaag-doeleindes.

Benodigdhede
Houtskyf (wat te koop is by kwekerye en van bome is wat onder streng beheer uitgekap word); ’n plat 36 mm-boorpunt; elektriese boor; skuurpapier; teekerse in metaalhouertjies.

Maak só
• Merk die posisie van die teekerse met ’n potloodkruisie. Meet die diepte van die
teekershouertjie en merk dit op die boorpunt.
• Boor die gate tot hierdie diepte. Sorg dat die gate presies die regte diepte is om brandgevaar te voorkom.
• Skuur die bokant effens glad. Onthou, hierdie houtskywe is soms nog klam, laat dit eers goed uitdroog in die son voordat jy jou kershouer maak. Gebruik slegs teekerse wat in metaalhouertjies gegiet is.
Wenk: Hierdie skyf is ideaal om saans buite te gebruik. Teekersies is ook nou beskikbaar in
sitronella-geur om die muskiete weg te hou.

E
SAK VAN TOU
Hekel ’n tousakkie en gebruik ’n ou belt as handvatsel.

Benodigdhede
2 Tolletjies sagte kerspit-katoentou (ook beskikbaar by Cape en Transvaal Twines); 6 mm-hekelpen; ou leerbelt.

Maak só
• Heg aan 40 steke, draai en hekel in rye met kortbene tot 2 maal die lengte van ’n A4-
papier.
• Slaan sowat 6 steke in die begin en einde van die volgende 2 rye oor en hekel nog
10 rye vir ’n oorslag en heg af.
• Werk synate toe.
• Neem leerbelt en knip ’n lengte van 50 cm af. Slaan gaatjies met ’n els in die punte en
werk dit met sterk gare deur hierdie gaatjies aan die sak vas.
• Gebruik die gespe-gedeelte van belt as vasmaakmiddel.

F
BÊREBOKSE VAN RAFFIA
Herwin ’n ou boks deur dit met raffia oor te trek.

Benodigdhede
Stewige bokse; raffia; klein metaal- of houtknoppie; kontakgom; wasgoedpennetjies.

Maak só
• Maak seker dat daar genoeg speling is tussen die deksel en die boks. As die deksel te
styf pas, moet jy nie die lip van die boks met raffia beplak nie.
• Begin die raffia net onder dit plak. Merk dit liggies met potloodstrepe.
• Vierkantige boks: Plaas die deksel op die raffia en meet die hoogte van die dekselrand
+ nog 2 cm.
• Knip uit volgens die mate en sigsag dadelik die rourand. Vou die raffia om
die deksel en speld die hoeke af.
• Stik die hoeke en sigsag 7 mm vanaf die stiksel. Knip nou eers die oortollige materiaal weg. • Keer om. Smeer die deksel se bokant en binnerand met gom en plaas in die gestikte deksel. • Druk vas en hou vir ’n rukkie in posisie met die wasgoedpenne. Trek die boks op dieselfde
wyse oor.
• Ronde boks: Trek die sirkel van die deksel na en bring in berekening die hoogte van die rand + 2 cm ekstra. Knip uit en sigsag dadelik.
• Smeer die deksel met gom en druk die raffia presies in die middel daarop vas. Laat ’n rukkie droog word en smeer die rand.
• Plak rand vas. Indien nodig, kan jy dit plek-plek ’n inknippie gee en dit effens laat
oorvleuel.
• Laat droog word en knip enige oortollige materiaal weg. Rond die rand af met ’n mooi koord of lint.
• Maak ’n gaatjie in die middel van die deksel en skroef ’n knoppie hierop vas.
• Knip ’n lang strook volgens die omtrek van die boks + 5 cm ekstra.
• Plak dit om die boks en vou die oortollige materiaal weg by die bodem.
• Gom vas. Knip ’n sirkel kleiner as die bodem en gom dit oor die raffia vas om dit netjies af te werk.