Reis saam
Raak skeppend in jou eie huis met inspirasie uit verre lande

A
VERSIERDE KOEKSTAANDER
Versier ’n houtstaander só vir Paasfees

Benodigdhede
Houtkoekstaander; stoffeerspykertjies; klein kraletjies en sowat 15 – 20 traandruppelkrale; dun krale-vislyn.

Maak só
• Druk op gelyke afstande spykertjies aan die onderkant van die bord in.
• Die spykertjies kan maar sigbaar wees.
• Anker die vislyn om ’n spykertjie met ’n driedubbele knoop voordat jy die
krale begin inryg.
• Ryg sowat 10 – 14 kraletjies in, dan ’n traandruppel en weer 10 – 14 klein kraletjies.
• Anker die vislyn om die volgende spyker tjie en herhaal die proses totdat jy rondom die staander gewerk het.

B
GEVERFDE POTTE
As jy hou van ’n aardse en Midde-Oos terse voorkoms is dit ’n mooi manier om ou potte te versier.

Benodigdhede
Terracotta-potte; Earthcote-verf; kwas.

Maak só
Earthcote is ’n sementbasisverf wat in poeiervorm is. Hierdie poeier word volgens die vervaardiger se aanwysings met water gemeng om ’n dikkerige verf te vorm. Die verhouding is gewoonlik 1 kg poeier tot 340 – 400 ml water. Volg die vervaardiger se instruksies noukeurig.
• Maak die pot effens klam en verf met kruisbewegings om ’n mooi tekstuur te kry.
• As jy onseker voel oor die oppervlak wat jy gaan verf, kan jy dit eers met ’n sementonderlaag of ’n bindvloeistof verf (beskikbaar by hardewarewinkels).
• Laat droog word voordat jy iets daarin plant.
* Earthcote-verfwinkels is landwyd.

C
LANG KUSSING
So ’n lang kussing maak ook ’n lekker lêmatrassie vir voor die televisie.

Benodigdhede
Sowat 70 x 140 cm roomkleurige materiaal en 50 x 140 cm goudkleurige materiaal (bv. Hertex se Stonelight, kleure Glow en Nostalgia); 8 perlemoenkleurige knope; 1,2 m dik
watteersel.

Maak só
• Knip 2 reghoeke van 60 x 50 cm uit die roomkleurige materiaal en 2 reghoeke van 30 x 50 cm uit goudkleurige materiaal. Knip nate deurgaans aan.
• Stik 2 van die kort stroke weerskante van die lang strook.
• Stik oorblywende stroke ook so vas.
• Knip 2 lae watteersel volgens kussinggrootte.
• Sit die kussing se voor- en agterkant met regte kante op mekaar met die 2 lae watteersel heel bo en stik rondom toe, laat ’n opening om om te keer.
• Keer om en werk opening toe.
• Werk knope op las vas.

D
TAFELLOPER
Maak ’n loper van sy en versier dit met tossels en lint vir ’n Midde-Oosterse gevoel

• Maak ’n breë tafelloper uit Hertex se dupion-sy en werk dit met ’n bruin lint
en tossel af.
• Meet lengte en breedte van tafel. Die loper moet sowat 30 cm afhang.
• Maak loper uit ’n dubbele laag materiaal.
• Koop materiaal volgens dié mate aan.
• Vou materiaal dubbeld en knip loper volgens jou tafelmate.
• Stik rondom toe, laat opening vir omdop.
• Dop om, druk hoeke uit en stryk netjies plat.
• Meet sowat 10 cm vanaf rand en merk met ’n verdwyn-inkpen waar die lint vasgestik moet word.
• Speld vas en stik.
• Maak netjiese skerp hoeke en werk tossels van jou keuse vas.

E
HOUTBALK-KOFFIETAFEL
Maak so ’n mooi koffietafel met dik balke

Voor jy begin
Besluit op die lengte en hoogte van die tafel en koop houtbalke hiervolgens aan. Ons koffietafel se hout is in ’n skrootwerf gevind. Dit is geskaaf, gesaag en gestapel. Jy kan selfs
gelamineerde balke hiervoor gebruik.

Benodigdhede
Dik houtbalke.

Maak só
• Laat saag 2 of 3 balke vir die blad wat lengtegewys gebruik sal word en 2 balke so breed soos die blad vir die pote.
• Stapel die planke soos op die foto, en gom en skroef dit vas sodat dit nie kan aftuimel nie – veral as jy dunner balke gebruik.
• Skuur glad indien nodig met fyn skuurpapier.

F
FLAMBOJANT MET STROKE
Dit is ook die ideale manier om ’n gordyn langer te maak of ’n stukkie luukse lap te “rek”.
Benodigdhede
Sowat 1,5 m gestreepte materiaal (Isabella, kleur Pinotage van Hertex) en 2 stroke effekleurige materiaal (Dupion Plain Silk van Hertex) wat die gordynlengte (drop) opmaak.

Maak só
• Bepaal die voltooide lengte van jou gordyn en knip hiervolgens.
• Stik die 2 effekleurige stroke aan die bo- en onderkant van die gestreepte lap vas.
• Stik some in en werk die bo-rand van die gordyn na jou smaak af.
• Ons het ophanglusse gemaak.