KIES TEKSTUUR (foto regs)
Trek jou persoonlike dag- en skryfboeke oor met wit papier of materiaal, maar gebruik verskillende teksture. Vir ’n boekmerk: ryg ’n perlemoenknoop aan ’n stukkie lint en plak die
ander punt in die rug van jou dagboek vas.

Maak só

As jy boeke met papier of materiaal oortrek, is ’n Pritt-gomstiffie die beste. Smeer die hele boek se voor-, rug- en agterkant egalig met gom en stryk die papier met die agterkant van jou hand glad. Plak die rande wat na binne vou, vas.

BAD IN GEUR

Iets anders - kleurwas ’n hout-tuintralie, versier dit met vars blomme en ou parfuumbottels (of enige ander mooi botteltjies) en hang dit in jou badkamer.
Maak só
Skuur die tuintralie liggies met skuurpapier om die ergste growwigheid te verwyder. Verdun ’n bietjie wit PVA met water en verf die tralie. Verwyder spuite van parfuumbottels met ’n tang en bind met wit lint aan die tralies vas. Vul met water en rangskik fyn lenteblomme daarin.

VEREWIG ’N FOTO

Versier ‘n badkamer met jou gunsteling-foto. Kopieerwinkels verskaf ’n volledige diens wat drukwerk op lap, die span daarvan en verseëling doen. Kies hierby handdoeke wat jy luuks versier met ’n hekelrand.

Hekelrand

Pingouin nr. 5 van Saprotex en ’n 2 mm-hekelpen.
Hekel ’n basisry-kortbene (kb) in rand van handdoek, draai (dr) - druk gaatjies met ’n dik stopnaald.
2de ry: Hekel 1 langbeen (lb), (1 kettingsteek (ks), slaan 1 kb oor, 1 lb in volgende (vlg) kb), herhaal (her) tot end, dr. 3de ry: 1 kb, (3 ks, slaan 1 ks 1 lb en 1 ks oor, 1 kb in vlg lb) her tot end, dr. 4de ry: (1 kb, 5 lb en 1 kb) in elke ks-lus. Heg af.

DEK MET GLAS

As jy weer ’n tafel spesiaal en mooi wil dek, plaas ’n paar blommetjies onder ’n glasklok pleks van massas blomme.