ENGELFRAAI (foto regs)
Beeldjies maak weer ’n buiging - of dit nou porselein, sement of marmer is. Plaas jou beeldjie op ’n ongewone plek vir spesiale geleenthede, soos hier in ’n fontein. Laat vars rose in die water dryf. Vervang die kers by die engel-kershouer deur ’n vars rosebal. Knip miniatuur-rosies (so 2 bossies) kort af en druk dit styf teenmekaar in ’n nat oaseballetjie (by blomhandelaars te koop). Bedek die hele bal met rose.

DELIKAAT

Die kleinste geskenkie met ’n handgemaakte kaartjie daarby dra altyd die mooiste boodskap oor. Koop ’n besonderse kolwyntjie en gee dit saam met ’n spesiale kaartjie. Knip ’n mooi kaartjie uit goue papier en plak klein roosplakkers daarop. Die roos-kolwyntjies is van Mana Epicure (021 426 2413).

VORSTELIK



Skep vir jou ma ’n koninklike plekkie in jou tuin in egte Marie Antoinette-styl (kyk die gelyknamige fliek met Kirsten Dunst as jy swier wil sien). Verras met ’n vergulde stoel in Lodewyk XIV-styl. Ryk stowwe soos brokaat en fluweel pas by hierdie voorkoms. Strooi ’n hand vol mooi linte oor die sitplek vir ekstra bederf. Maak ’n kruik propvol tuinrose.

DEKORATIEF

Maak ’n mooi piekniek-kis. Ons het ’n ou teekis gebruik. Skroef goudkleurige handvatsels aan die kante vas. Fotostateer ’n mooi prent op ’n A3-vel. Smeer ’n laag Outdoor Podge Medium op die deksel en plaas die prent daarop. Rol blasies en oortollige Podge met ’n sponsroller uit. Laat droog word. Smeer ’n oneweredige lagie verguldingsgom (sizing) om die rand van die prent. Doop jou vingers in babapoeier en skeur stukkies goue foelie (gold leaf) af en plaas dit versigtig en liggies vas op die gomlagie. Hou jou vingers bedek met poeier. Laat droog word en borsel oortollige foelie weg met ’n sagte kwas. Plak mooi lint om die rand.