Altydgroen (foto regs)
Dra jou deel by tot herwinning. Gebruik ’n afgesnyde plastiekbottel as basis. Kies stewige blare soos klimop- of viburnum-blare en knip die stele af. Werk van bo na onder en plak met alkantkleefband (double sided tape) ’n strook om die bottel. Plak die blare sodat dit effens oorvleuel. Plak nog ’n strook kleefband en gaan só voort in rye totdat die hele houer met blare bedek is. Dit sal sowat 10 dae hou, afhangend van die soort blare. Rangskik blomme of takke in die houers. Die ronde sytafel is van Lime Grove en die groen porselein-blaar van Mr Price Home. Plakpapier is van Décor Wallcoverings. Klokhelder Klokhelder.
’n Woud in die kleine onder ’n klokglas sorg vir ’n interessante fokuspunt. Dis die ideale alternatief as blomme te duur is. Gebruik takkies of blare en mos uit jou tuin - of koop dit by blomverskaffers en sit dit op ’n dik stuk hout of groot bord. Gebruik ’n stukkie klam oase in die middel van ’n kleiner glaspot (stilis se eie) om bv. varingpunte in te steek. Bedek die oase met mos en versier met klein kunsdiertjies, -insekte, stokkies, ens., te kry by blomverskaffers. Die unieke slak-ring is van freeRange jewels en die silwerkleurige mier die stilis se eie. Die glasklok is van Loft Living en die metaalvoëltjie van Nap. Die glasklok is natuurlik ook ideaal om kos of soetgoed te bedek.
Botanies Botanies.
Span ’n stuk materiaal oor ’n skilderdoek om jou eie skilderye te skep.
Maak só:
Koop ’n doek (by kuns- of groot hardewarewinkels) so 5 cm kleiner as jou stuk materiaal. Kram die materiaal aan die doek vas met ’n krammasjien - eers die een kant en dan trek jy die lap styf na die oorkantse rand en kram vas. Doen dieselfde met die oorblywende rande. Die wit papiergordyn van ontwerper Tord Boontje is van Imagenius. Materiale vir doeke is verskaf deur Hertex Fabrics (van groot na klein): Botanic Forest, Joshua Sage, Twiggy Pop en Soft Fern. Die oorspronklike skildery op die houtblok is van Nap, die goudkleurige takkie van @home, handgemaakte syvoëltjie van Jana en die takkies-bak van Loft Living.