Johan is nie ’n man wat skrik vir ’n uitdaging nie. As jy daaroor droom, kan hy dit waar maak. Asof hy ’n towerstaf het, omskep dié mede-eienaar van Scape Events (www.scapeevents.co.za) ’n plek in iets asemrowends.

Al was dit vir Johan ’n groot omwenteling om van ’n ruim woonstel wat hy met ’n vriendin gedeel het, alleen na hierdie 70 m2-blyplek (wat die tussenvloer insluit) te verhuis, wou hy graag naby die hartklop van die stad wees, en die interessante een vertrek-woonstel het aan alles voldoen wat hy soek.

’n Lieflike restaurant net oorkant die pad sorg baie keer vir aandete en omdat die res van die gebou nou meestal kantorehuisves, is dit stil en rustig saans.

wenk
WENK: Sorg vir genoeg beweegruimte om meubels

OOP RUIMTE 

Johan se geheim vir ’n klein spasie is om dit nie te oormeubileer nie. ’n Bank en ’n leunstoel vorm die kern van die sitkamer, met twee kleiner “spaar stoele” teen die muur. Die tafel met gedraaide metaalpote en ’n soliede houtblad is ’n voorbeeld van ’n toekomstige besigheid wat hy en sy vennoot Candice Sinclair gaan aanpak. Die vloer is afgevlakte sement wat geverf is. Vir hom is swart die belangrikste kleur in dekor. Daar is ook slim gespeel met tekstuur, soos die growwe mat, metaaltafel en ’n sagte kunspels op die stoel.

RANGSKIK DIT MOOI 

’n Klein stillewe is op die tafel gerangskik. Pers tulpe en ’n bak vol vrugte. Johan pak gereeld van sy goed weg en roteer dit met ander goed. So bly sy plek altyd nuut en vars.

PORTAAL

Die metaalraamvenster, dubbelvolume ruimte en naak ligte skep ’n nywerheidsgevoel. ’n Pels oor die stoel en plante versag die voorkoms.

TYD VIR ’N DRANKIE

Die ou drankkassie staan vlak by die agterdeur, wat na ’n piepklein patio-area lei.

SLAAPKAMER BO

Op die boonste vlak is Johan se knus slaapkamer, ’n lang,smallerige ruimte die breedte van die vertrek. Hier staan ’n heerlike groot bed met net genoeg plek vir leeslampies langsaan. In die ander hoek is ’n informele aantrekhoek met sy klere en skoene.

ONDER DIE BALKE

’n Tussenvloer is oor ’n kwart van die leefarea geïnstalleer. Direk onder die hoofslaapkamer is hierdie ekstra slaaphoekie geskep. In die ander hoek is die badkamer.

woon
WENK: Bring klein, los goed soos kussings, ornamente of blompotte in om in pas te bly met die nuutste dekortendense

VOEG DIE NUUTSTE BY

Omdat Johan ’n geleentheidsbeplanner is (hy en sy vennoot spesialiseer in groot troues en korporatiewe partytjies), is hy aan die voorpunt van die nuutste tendense. Die pers deken en kussing is ’n ode aan pers, die kleur van die jaar vir 2018. Op die foto is die leer wat na sy slaapkamer lei. Groot metaaldubbeldeure lei na die klein patio buite. Op warm aande word hier lekker gekuier.

SARIE in jou huis
Oor die jare het SARIE pragtige voorblaaie gehad. Nou kan hierdie ikoniese voorblaaie in jou huis voortleef! In samewerking met @smartartdigital, ’n voorloper in digitale drukwerk, kry jy nou die geleentheid om ’n SARIE-voorblad op muurpapier, plekmatjies, handsakke, voorskote, kussingslope en vele meer te laat druk. Besoek Smartart se webtuiste vir meer inligting!