FOTO’S Henk Hattingh ASSISTENT Kate Kuschke

Die huis wat Klippie gebou het. Sommer met die intrapslag om die Laeveld te verken vir die dekortydskrif SARIE WOON het mense gepraat oor die ekovriendelike huis in Nelspruit wat argitek Klippie du Toit vir homself ontwerp het. Self sê Klippie met ’n vonkel in die oog die huis is sy sigbare en tasbare visitekaartjie. Dís sy werk. Die derde slaapkamer in die huis is juis as kantoor ingerig sodat toekomstige kliënte sy werk eerstehands kan sien.

Ná sy studies aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie het Klippie in 2010 hierheen verhuis. Binne twee jaar het hy sy eie praktyk begin (earthswitch.co.za) en sy eie huis ontwerp.

Hy wou ’n huis groen bou sonder om die estetiese in te boet. Die resultaat was dat hy dit volgens bioklimatiese riglyne ontwerp het sodat dit koel in die somer en warm in die winter is. Dit word verkry deur die korrekte plasing van vensters en deure, wat lugversorging selfs in die Laeveldse hitte onnodig maak. Ruimte is ook baie slim bespaar deur die kombuis kompak te hou met ’n versteekte nat kombuis agter ’n glydeur.

Sonpanele is geïnstalleer, met opgaarwater uit twee groot tenks wat vir die tuin, swembad en toilette gebruik word. Die tuin is tagtig persent droogtebestand en die kombuisdak beplant met spekbome, wat help om die koolstofvoetspoor uit te wis.

Ons wonder waar die naam Klippie vandaan kom, want sy doopname is eintlik Petrus Johannes. Hy glimlag en vertel sy oupa Ben het in die Bybel gelees Petrus beteken “rots” en terstond het hy as baba Klippie geword. Klippie is vandag ’n suksesvolle rots vir ander. Sonder pretensie, vlug van begrip, kreatief, warm en vriendelik. Alles wat jy in ’n argitek soek. 

Kook op die dek
Kook op die dek

KOOK OP DIE DEK

Die lekker groot houtdek van Rhodesiese kiaat grens aan die kombuis en sitkamer, en die deure skuif Klippie permanent oop. Dit gee ’n gevoel van ruimte en maak dat die kombuis en sitkamer deel van die dek is. Die klein swembad word met opgaarwater gevul en die hangmat is reg as iemand dalk ’n bietjie wil rondhang. Sy pragtige husky, Koda, hou stip dop wat by sy huis aangaan.

Beton op beton
Beton op beton

BETON OP BETON

Klippie het regdeur die huis beton, staal en hout gebruik. In sy sitkamer is ’n meerdoelige uitstalrak of sitplek. Die meeste van die kunswerke in die huis is dié van sy suster, Benine du Toit Janse, ’n kunstenaar wat in Nederland woon (beninedutoit.com). Pleks van alle kuns op te hang, laat leun Klippie dit teen die muur sodat dit gereeld geroteer kan word.

Net genoeg
Net genoeg

NET GENOEG

Die hoofslaapkamer is minimalisties gemeubileer, met ’n luukse bed, twee subtiele bedkassies en hout-bokhorings teen die fokusmuur. Dié muur is met spesiale stukadoor-pleister afgewerk. Vir die vloere in al die slaapkamers het Klippie soliede hout gekies.

Tussen bome
Tussen bome

TUSSEN BOME 

Die hele dek-area is beplan om die papierbas- en maroelabome wat behoue moes bly. Pleks van ’n ingeboude braaiplek het Klippie op ’n braaiput besluit. Sy kenmerkende ingeboude betonbankie met woorde, letters of syfers is weerskante sodat jy lekker kan sit en staar in die vuur en met ’n stokkie in die kole krap. Op die agtergrond is die dubbele voordeur. 

Kom sit
Kom sit

KOM SIT

Die twee kleure van die leerrusbanke en growwe ottomans gee tekstuur, terwyl die blougrys rand om die diep kaggel fokus plaas op die gepoleerde betonmuur bo dit. Pleks van gordyne is daar buite skuifhortjies.

Agter toe deure
Agter toe deure

AGTER TOE DEURE

Klippie se slim plan met sy opwasbak, skottelgoed- en wasmasjien steel jou hart. Digby sy interessante betoneetkamertafel is dié versteekte hoekie. As die stapeldeure toe is, pas dit naatloos by die dekor en gaste is salig onbewus van vuil skottelgoed.

Kombuiskuns

KOMBUISKUNS

Die grofgepoleerde betonmuur in die kombuis is die perfekte agtergrond vir dié kunswerk van Benine. 

Stort met 'n uitsig
Stort met 'n uitsig

STORT MET ’N UITSIG

Groot vensters met skuifhortjies vir privaatheid verskaf natuurlike lig in die badkamer, en die oorgroot teëls is hier herhaal. Die vloer is afgevlakte verseëlde sement, met stortwater wat deur die gleufies-houtvloer van die stort dreineer in ’n versteekte afvoerpyp. 

So n bietjie kleur
So 'n bietjie kleur

SO ’N BIETJIE KLEUR

In die gastebadkamer is ’n sterk kleur ingebring in die vorm van oorgroot teëls. Die onewe houtpaneelwerk teen die muur en aardse afwerking van die wasbakblad vorm ’n interessante kontras met die enkele groot porseleinteël bo die wasbak.

Slim tuin
Slim tuin

SLIM TUIN

Die tuin is waterwys uitgelê met plante sooseuphorbia, boomaalwyne en inheemse grasse.

SARIE Woon 2019/2020
SARIE Woon 2019/2020

Die 11de uitgawe van SARIE WOON is tans op die rak. Die dekorspan het tussen Nelspruit en Hoedspruit in die Laeveld gaan kuier. Hulle het huise en ’n leefstyl ontdek om van te droom. En kreatiewe mense wat inspireer!