In ’n stil straat in ’n ou Paarlse buurt het die Louw-gesin hulle kom tuismaak in ’n kompakte dorpshuis. Heloïse is ’n mode- en dekorstilis en haar man, Martin, ’n bou-tegnoloog. Met twee klein kinders, Lilia (4) en James (10 maande), verstaan die kreatiewe egpaar die kuns om ’n kinder-vriendelike dog stylvolle huis te skep.

Elke spasie op die twee vlakke is benut.

Onder is die motorhuis en portaal, met ’n versteekte kantoor. Op die leefvlak bo nooi die vensters met blindings die Bolandse berge in. Die oopplan-leefvertrek is slim in vier verdeel: TV-hoek, kombuis, eet-area en sitkamer.

In die slaapvleuel is die hoofslaap-kamer met sy en suite-badkamer en Lilia se droommooi kamer. Die derde kamer bly eers gastekamer tot James groter is.

Heloïse is ’n vennoot in ’n aanlyn reeks met alles wat ’n stylvolle kinderkamer benodig (littlelovekids.com). Hulle kan help met oormaaksessies en sal werk met wat jy het. So ook haar dekordiens, thehomecollective.squarespace.com.

Knus en warm

Alles aan die bed is doeksag. Die kopstuk is gestoffeer, die beddegoed gemaak van fyn linne en die dik wolkombers van Mooo Wool hou koue voete warm. ’n Slim rakkie bo die bed is pakplek vir los goed en mooi prente en foto’s.

’n Kamer vir ’n prinses

Lilia se kamer is ’n sprekende voorbeeld van hoe mooi Heloïse kinderkamers oordoen. Feitlik alles in die kamer kom uit haar winkel by littlelovekids.com.

Kuierhoek

Die sitkamer langs die kombuis bied gesellige kuierplek. Die stoele, Heloïse se ouma s’n, word gekombineer met ’n moderne koffietafel en ’n geweefde ottoman (voor). Net blindings is voor die vensters gehang sodat die uitsig op die Bolandse berge onbelemmerd is. Die muureenheid (sigbaar in die spieël) sorg vir ekstra pakplek vir kombuisgoed. Die blou kussings op die stoele is van Weylandts en die klein blomvase op die sytafels van H&M Home.

Langs die bed

Skep ’n intieme hoek langs jou bed soos Heloïse in haar gastekamer gedoen het, met afdrukke waarvan jy hou, geurkerse wat lekker ruik en ’n bakkie vir jou ringe en oorbelle.

Bad-oase

Die en suite-badkamer word met ’n halfmuur van die hoofslaapkamer geskei. Die badrand is met verseëlde afgevlakte sement bedek. Dieselfde kleur en afwerking vir vloer, bad en muur maak dat die hele vertrek naatloos vloei.

Kom ons kook

Die kombuis vorm deel van die TV-hoek, eet-area en meer formele sitkamer. Die Louws onthaal graag. Die gaste kan dus lekker kuier terwyl die kokke so kook-kook saamgesels. Hier is ook slim met tekstuur gespeel.

Die afgevlakte sementvloer met dieselfde afwerking as die werkeiland skep ’n mooi kontras met die gladde houtkassies en -werkvlakke. Vir die wasbak het hulle ’n duursame Caesarstone-vlak gekies.

’n Stoep vir somer en winter

Die stoep word met ’n glasskuifdeur van die leefarea geskei. Op hierdie stoep gebeur dinge. Vroegoggend drink Heloïse en Martin hier koffie, die gesin kom deur die dag hier uitspan, en naweke word om die lang tafel onthaal. Die blou kussings is van Novella Design, die kunspelsdeken en pienk kussing van @home, en die hangligte van NM Design.

Heloïse se wenke vir ’n baba- of kinderkamer Kies een muur om te versier sodat dit nie bont raak nie. Gebruik vinielplakkers wat weer verwyder kan word. ’n Gemakstoel is ’n moet vir voedings of lees. Hou die meubels min. Sorg vir genoeg houers om speelgoed in te pak.
WENK Deur ’n neutrale palet te kies kan ’n voorkoms maklik vernuwe word met los goed en vertrekke kan geruil word.